Karen Zoid spog met ’n bottel van haar rooiwyn, “Sy Raas”, wat op die Doolhof-wynlandgoed in Wellington gemaak is. Foto: Verskaf


Vanjaar se winterseisoen is in volle gang met heelwat kouer dae wat waarskynlik eers later sal volg, en niks skreeu meer Boland as ’n heerlike glas rooiwyn op ’n kouer wintersaand nie.

Karen Zoid, Suid-Afrika se koningin van rock, het die perfekte wyn vir sulke koue aande met haar eie shiraz wat by die Doolfhof-wynlandgoed in Wellington gemaak word.

Die druiwe vir die rooiwyn genaamd “Sy Raasis vroeg in die oggend op 18 Maart 2022 geoes en die trosse is met die hand gesorteer voor die ontstingeling en fyndrukking.

Dit is gevolg deur ’n ekstraksie- en fermentasieproses in vlekvrye staal wat twee keer per dag vir agt dae oorgepomp is.

Ná malolaktriese fermentasie is die wyn vir agt maande in Franse eikehoutvate van groter formate met ’n 30% nuwe eikehout-komponent verouder, gefiltreer en in November 2022 gebottel.

Op die neus is die rooiwyn lewendig, met wenke van speserye en bloubessies en ’n effense parfuumgeur. Op die verhemelte is dit vars met sagte maar soepel hoeveelhede saggies geïntegreerde tanniene wat naatloos ineengeweef is om ’n lang en helder afwerking te gee.

Zoid het in ’n kort beskrywing die wyn as ’n komplekse mengsel met die perfekte uitkoms uitgebeeld.

“Die druiwe wat die prys moes betaal vir hierdie bottel wyn word naby die see verbou, waar die dae sonnig is en die nagte koud. Dit was nie maklik nie, maar elke oggend het die son beloftes kom fluister. Toe die tyd aanbreek, is die shiraz sorgvuldig in klein Franse eikehoutvaatjies verouder. Die resultaat is ’n komplekse wyn wat my laat verlang na my moerbeie, tabak en peper – die perfekte metgesel vir my mild midlife crisis. Dankie vir 21 jaar van musiek, kuiers en avontuur,” lui haar gedig.

“Sy Raasis te koop op Doolhof se webtuiste teen R265 per bottel.

As jy gelukkig is, sal jy dit ook by enkele restaurante in die Wes-Kaap teëkom.

You need to be Logged In to leave a comment.