Nog ’n ontwikkeling word op die drumpel van die Paarl gebou. Die nuwe Zanddrift-leefstyllandgoed is ’n ontwikkeling vir residensiële en aftree-doelein­des.

Die landgoed is geleë op die Wemmershoekpad oorkant Boschenmeer en naby die nuwe Drakenstein-sentrum, met uitsigte oor die Drakensteinberge en omliggende wynlande.

Die landgoed, wat teen meer as R2 miljard ontwikkel word en deur die bekroonde Dennis Moss-venootskap ontwerp is, sal met argitektonies ontwerpte woon- en aftreehuise met leefstylgeriewe, groot openbare oop ruimtes en parke pronk.

Marco Kriek, die besturende direkteur van die ontwikkelaars Combined Developers, sê: “Die Paarl is een van die snelgroeiendste gebiede in die land met pragtige omgewings wat veiligheid bied, uitstekende skole en mediese dienste en toeganklikheid tot die N1. Dit is geleë naby Stellenbosch, Kaapstad en die noordelike voorstede geleë, terwyl dit steeds ’n kleindorpse karakter behou.”

Kriek sê die ontwikkeling is op volhoubare ontwerp toegespits, met onder meer omgewingsgesonde boupraktyke soos die installering van dubbelglasvensters, sonpanele, slim verkoeling en verhitting en ander inisiatiewe.

Die veiligheid en sekuriteit sal ’n topprioriteit wees met biometriese toegangsbeheer 24 uur per dag, bewegingsverklikkers, kameras en hoogs opgeleide veiligheidspersoneel op 24-uur-patrollie. Al die huise en kothuise sal toegerus wees met hoëtegnologie-alarmstelsels wat geaktiveer kan word om landgoedpersoneel te waarsku in geval van persoonlike, huisveiligheid- of mediese noodgevalle.

Om die gemeenskapsleeftyl aan te moedig sal Zanddrift se aftreedorpie ekstras soos ’n groentetuin asook ’n portier-diens insluit.

Dit sal ook ’n gedeelde werkruimte bied met beurtlessenaar-ruimtes, vergaderlokale en drukkers. Instandhoudingsdienste sal op die perseel beskikbaar wees, asook ’n leefstylsentrum met ’n speel-lokaal vir dans- en kunsklasse, sowel as ’n biblioteek, restaurant, verhitte swembad en gimnasium.

Die landgoed sal ook troeteldiervriendelik wees.

Die eietitel-aftree-ontwikkeling sal ontwerperkothuise en 140 pasgemaakte plot-en-plan-huise bied, met ’n wye keuse van uitlegopsies om by jou leefstyl te pas.

Die twee- en drieslaapkamerhuise bied kopers die buigsaamheid om ’n oopplan- of meer tradisionele uitleg te skep, met ’n keuse van stylvolle binneafwerkings wat jou toelaat om jou individuele smaak en persoonlikheid te behou. Pryse wissel tussen R4,3 en R5,8 miljoen.

Die residensiële ontwikkeling is reeds 75% uitverkoop en sal enkelresidensiële erwe van tussen R1,35 en R2,2 miljoen bied.

Kopers sal teen die einde van 2023 kan intrek.

You need to be Logged In to leave a comment.