Die Young Peoples-krieketklub was Saterdag die gasheer vir die Worcester Victorians-krieketklub en die kragmeting het vele uitdagings gebied.

Met reënbuie wat vroeg die oggend uitgesak het, was dit ’n belangrike loot vir die kapteins om te wen. Gelukkig het die Tiere se kaptein, Jade Adams, die loot gewen en eerste gekolf.

Adams (28) tesame met die immergroen Lorenzo Jacobs (21) het Young Peoples se beurt teen ’n stewige pas van 6.1 lopies per beurt begin en was ná 10 beurte op 61/0. Vir Viccies, soos die Victorians bekend staan, het C. Benjamin in die elfde beurt toegeslaan en eers van Jacobs, en net ’n paar balle daarna Adams, ontslae geraak.

Die Tiere van Young Peoples het die kastaiings uit die vuur begin krap met ’n goeie vennootskap tussen die paaltjiewagter, Wade Adams (31), en Anwill Andrews (15) en het die kolfbeurt begin stabiliseer.

Benjamin het Adams egter in die 38ste beurt uitgekry. Die opwindende jong sensasie Noah van Niekerk het by Andrews aangesluit en dié twee het ’n indrukwekkende kolfbeurt opgestel.

Die debutant Rafiek Moerat het vir die Tiere ’n waardevolle 12 lopies met ’n sierlike ses oor middebaan aangeteken en die Tiere het met 193/10 in 47.1 boulbeurte afgesluit.

Viccies se kolfbeurt het stadig op dreef gekom en hy het sy 50-tal eers ná 19 beurte bereik.

Hier moet die kaptein van Young Peoples (Adams) uitgesonder word vir sy 0/6 in 7 beurte, asook Lorenzo Jacobs (3/21 in 10 beurte). Dié twee was die grootste angels in die manne van Worcester se vlees.

Vir die Victorians was daar egter nie baie weerstand teen die slinkse boulaanval van die Tiere nie. Jacobs en Adams is uitstekend bygestaan deur hul draaibalboulers Danver Louw (2/12 in 5.2 beurte) en Van Niekerk (2/27 in 8 beurte) om die Victorians met 67 lopies te verslaan. . Hierdie naweek kom Young Peoples KK te staan teen die manne van De Wet KK, eerste span (tuis) tweede span (weg).

Ander uitslae:

YP II vs Worcester Victorians II:

YP II 159/9 in 50 beurte

Worcester Vic II 124/10 in 41.4 beurte

YP II wen met 35 lopies

YP IV vs Wellington III:

Wellington III 53/10 in 17.4 beurte

YP IV 56/0 in 6 beurte

YP IV wen met 10 paaltjies

YP III vs Paarl Oos III

Geen uitslag weens nat baanblad.

You need to be Logged In to leave a comment.