Die betaalkanaal kykNET het ’n nuwe plaaslike realiteitsreeks, Klein paradys, wat laat in 2024 uitgesaai word, onthul.
Die reeks sal ses mededingende spanne met ’n bestaande verhouding volg, wat elk ’n mikro-woonstel opknap en stileer in ’n poging om R1 miljoen te wen.
Elke span bestaan uit twee lede wat mekaar ken en vertrou. Dit kan broers en susters, ’n ouer en kind, vriende, kollegas, ’n liefdespaar, twee eks-verliefdes of kamermaats wees – enige duo met ’n bestaande verhouding kan inskryf.
Die mikro-wonings wat vir die reeks omskep word, moet vyfster-status aan voornemende gaste bied.
Soos die gesegde lui – klein, maar getrain. Ontwerpers van mikro-wonings het die afgelope tyd gewys dat ’n huis nie gerief of styl hoef in te boet net omdat dit klein is nie.
In Klein paradys wen die span wat die indrukwekkendste, mooiste en mees praktiese mikro-woning inrig.
So, as jy prakties en stylvol is en ’n klein ruimte in ’n pragtige huis met elke moontlike gerief kan omtower – gooi jou naam in die hoed. Klein paradys is ’n wonderlike geleentheid vir jou en jou spanmaat om die wêreld te wys wat in julle steek.
Die reeks sal in die Wes-Kaap verfilm word. Inskrywings het op 1 Februarie geopen en sluit op 29 Februarie.
Die reeks sal op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Dit sal ook op DStv Stream en DStv Catch Up wees. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en gebruik #KleinParadys om aan die gesprek deel te neem op X, Instagram, TikTok en Facebook.
. Besoek www.dstv.com/kyknet/af-za/program/klein-paradys/seisoen/1/inskrywingsform om jou span in te skryf.


