’n Bekende Paarlse wynmaker het gisteraand na bewering eers sy vrou geskiet waarna hy die vuurwapen op homself gerig het.
Dié dubbele tragedie het Dinsdagaand op die Paardeberg-plaas gebeur waar Hein Hesebeck en sy vrou, Anneline, gewoon het.
Die voorval het die aand voor Hein se 62ste verjaarsdag plaasgevind.
Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het by navraag gesê polisiebeamptes en lede van die Agter-Paarl-plaaswag is omstreeks 19:50 na die plaas ontbied nadat ’n familielid glo op die liggame afgekom het. “Die vrou (57) is in die leefvertrek gevind en die man (61) in die slaapkamer.”
Du Plessis het gesê volgens die voorlopige ondersoek het mense in die omgewing glo vroeër die dag skote gehoor, maar aangeneem dit is van buurplase. Geen misdaad word vermoed nie.