Foto ter illustrasie. Foto: Pexels


Groot dele van die Wes-Kaap, onder meer Bolandse dorpe soos die Paarl en Stellenbosch, is geruk deur bendegeweld die afgelope maand nadat bendeverwante skietvoorvalle honderde lewens geëis het.

Netwerk24 het in ’n aanlyn artikel van 4 Julie berig hoe amper 120 moorde tussen 24 en 30 Junie gepleeg is – nie net op die Kaapse Vlakte nie, maar ook in die Wynland.

Volgens ’n inwoner en gemeenskapsleier van Groenheuwel in Paarl-Oos, steier die gemeenskap onder dié geweldaanslag omdat alledaagse aktiwiteite, soos werk toe stap, ’n doodsvonnis raak.

Die bron voer aan dat minderjarige kinders wat nie skool gaan nie, aan die helm van dié bendegeweld sit.

“Dit is die 27’s en die 28’s [bendes] wat so met mekaar baklei.”

Die bron het gesê dat hulle egter nie weet waaroor die konflik tussen die bendes gaan nie, maar dat skote amper elke tweede dag links en regs afgevuur word.

Dis die kinders wat so skiet. Hulle sien ’n enemy [van ’n ander bende] en skiet dwarsdeur almal om by die enemy uit te kom.
Anoniem

“Dis die kinders wat so skiet. Hulle sien ’n enemy [van ’n ander bende] en skiet dwarsdeur almal om by die enemy uit te kom.”

“Hulle [gangsters] teiken ook mense wat werk toe gaan, en wanneer hulle die persoon klaar geskiet het, loop hulle na die persoon en steel hul goed [besittings].”

Dié skietvoorvalle word gewoonlik uitgevoer deur ’n groep van drie tot vier mense, sê die bron.

“Hulle [gangsters] skiet oor naweke en saans skote af. Hulle skiet veral in Monica-straat [in Groenheuwel].”

Die straatligte hier by ons is uit, en dan skiet hulle in die donker wanneer niemand kan sien nie.
Anoniem

“Die straatligte hier by ons is uit, en dan skiet hulle in die donker wanneer niemand kan sien nie,” volgens die bron.

Ander gebiede in Paarl-Oos wat in die spervuur beland, sluit in Magnolia- en Lantana-straat in Klein Nederburg, asook die woongebied genaamd Chicago.

Die bron verduidelik dat bendeverwante aktiwiteite die laaste paar weke in Chicago afgeneem het, maar dat dit steeds beskou word as ’n historiese brandpunt.

Volgens die bron het bendegeweld in Paarl-Oos, en spesifiek Groenheuwel, nie die afgelope maand toegeneem het, soos verwys deur Netwerk24 nie, maar eerder ’n plato bereik nadat dit reeds einde verlede jaar sterk toegeneem het.

Volgens die bron was die laaste sterfgeval in Groenheuwel ’n maand gelede toe ’n dwaalkoeël ’n inwoner getref het.

Hulle voer ook aan dat die polisie nog nie een inhegtenisneming in die laaste paar jaar uitgevoer het nie, wat die bendeverwante aktiwiteite in niemandsland aanhits.

“Ons mense leef in vrees; dit is nie lekker om hier [in Groenheuwel] te bly nie.”

Volgens Jeremy Malaqua, ’n woordvoerder van die Klapmuts-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het dié Bolandse dorp die afgelope maand ’n definitiewe toename in bendegeweld aangemeld.

Malaqua herhaal ook die bron van Groenheuwel se stelling dat minderjarige kinders die kwaaddoeners is.

Elke maandeinde raak die bendegeweld ook meer, asook snags laat.
Jeremy Malaqua

“Elke maandeinde raak die bendegeweld ook meer, asook snags laat,” volgens Malaqua.

Volgens hom is dit die 27’s- en 28’s- bendes wat met mekaar baklei.

Die Paarl Post het twee weke gelede berig hoe kinderbendes in Wellington aan die toeneem is en hoe dié bendeverwante aktiwiteite die dood van twee mense (albei op 18 Junie) veroorsaak het.

Die koerant het met die volgende vrae na die Paarl-Oos- asook die Klapmuts-polisie uitgereik:

  • Het die polisie die afgelope maand ’n toename in bendegeweld ervaar?
  • Watter soort bendebedrywighede het die afgelope maand plaasgevind?

Geen kommentaar is egter ontvang nie.

In ’n onlangse mediaverklaring, wat deur die Stad Kaapstad vrygestel is, het Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, en JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, hulle oor die bendegeweld en die swak polisiëring oor die probleem uitgespreek.

“Alle pogings is deur die Stad Kaapstad aangewend om die polisie [met bendegeweld] by te staan. [Die Stad Kaapstad] het al die hulpbronne beskikbaar gestel wat ons kan en toegang gebied tot ons hommeltuig-eenhede en ISR-oog-in-die-lug-platform. Ons het etlike maande gelede ons bes probeer om op hoogte te kom van die situasie en ons het ’n senior amptenaar binne die polisie genader om te reël dat ’n gebied vir ’n paar dae afgesluit word deur dit met hulpbronne te oorstroom. Ons voorneme was om deur die hele [Kaapse Vlakte] -gemeenskap te sif en ’n gebied ‘skoon te maak’ voordat ons aanbeweeg na die volgende, waar ons die siklus sou herhaal.”

Luidens die persverklaring gee die polisie egter nie hul volle samewerking nie.

You need to be Logged In to leave a comment.