‘n Groep vroue vanuit verskillende dorpe binne die Kaapse Wynland is op 13 Augustus vereer tydens ‘n glans geleentheid in die Paarl-stadsaal.
Die Fenomenale Vroue van die Wynlande 2025 toekenningseremonie is aangebied deur die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum -en monument asook die Historium Trust.
“Die doel agter hierdie funksie is om leierskap in vroue te verhef en te erken, wat normaalweg nie ‘n openbare platform het nie; leiers in gemeenskappe wat anoniem deur die lewe beweeg, dié wat ongemerk verbygaan, dié waaraan jy nie dink nie. Ons wil hulle vereer vir hul prestasies en ook hul teenwoordigheid vier,” sê Ald. (Dr) Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van KWDM.
Dit is die derde jaar dat hierdie toekenningseremonie plaasvind en wenners is gekies deur die nominasies wat deur die publiek ingestuur het.
“Daar is soveel inspirerende vroue in ons distrik wat ongelooflike werk in hul gemeenskappe en loopbane doen – om die wenners en naaswenners te kies is geen maklike taak nie. Die kompetisie word elke keer moeiliker, en dit wys werklik hoeveel verskil hierdie vroue maak. Hulle leef werklik die tema van Vrouemaand – Versnel Aksie – na!” het Beverley Farmer, medestigter en uitvoerende hoof van Women in Wine, gesê. Sy is ‘n beoordelaar van die toekennings en ‘n vorige wenner.
‘n Spesiale toekenning, die burgemeester se diskresionêre toekenning, is ook toegeken aan ‘n spesiale vrou – in hierdie geval die 78-jarige Setta Pieters van die Paarl.
“Daar is een deel van die geleentheid wat my veral na aan die hart lê. Met die ondersteuning van die munisipale bestuurder en sy span, word ek toegelaat om persoonlik een vrou te kies wat dalk nie deur die gewone proses genomineer word nie, maar wat steeds erkenning verdien. Hierdie spesiale eerbewys word die burgemeester se diskresionêre toekenning genoem, en dit word toegeken aan iemand wat op haar eie manier leierskap toon.”
Talle ander vroue in verskeie kategorieë van die toekennings is oor vereer vir die verskil wat hulle maak. Hulle is:
– Kategorie: Basiese Onderwys
Wenner: Cathy Roodman (Worcester)
Naaswenner: Bernadine Uys (Worcester)
– Kategorie: NRO-sektor
Wenner: Amanda Barnard – (Montagu)
Naaswenner: Sara Mankapan (Ceres)
– Kategorie: Entrepreneur
Wenner: Bronwen Bayman – (Paarl)
Wenner: Khanyisa Mhlakaza (Kayamandi)
Naaswenner: Nicolene Schoeman-Louw (Paarl)
– Kategorie: Ondersteuning
Wenner: Anne Davids (Robertson)
Naaswenner: Anneva Van der Westerhuizen (Paarl)
– Kategorie: Passie
Wenner: Monica Tiras – (Robertson)
Naaswenners: Marieta Botma (Worcester)
Naaswenner: Irma Stuurman (Worcester)
– Kategorie: Bevordering van Afrikaans
Wenner: Gaireyah Fredericks (Paarl)
– Burgemeester Wenner van diskresionêre toekenning
Setta Pieters – (Paarl)


