Die fenomenale vroue van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit vir 2024-’25 is verlede Woensdag (28 Augustus) by die Kronenburg-wynlandgoed in die Paarl aangekondig. Die burgemeester, dr. Elna von Schlicht, was by dié fenomenale vroue.Foto: Jana Scheepers


Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit waardeer en vereer sy fenomenale vroue.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), in samewerking met die Historium Trust en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), het verlede Woensdag (28 Augustus) by die Kronenburg-wynlandgoed in die Paarl 19 fenomenale vroue uit die distrik by die derde jaarlikse Kaapse Wynland-distrik se Fenomenale Vroue-toekennings vereer.

Hierdie jaarlikse inisiatief val saam met die viering van Vrouemaand. Nominasies het in Julie geopen, wat die publiek die geleentheid gegee het om onbesonge heldinne te benoem wat inspirerende werk in die Kaapse Wynland-gemeenskappe oor tien afdelings verrig.

’n Paneel van vooraanstaande vroue het die nominasies beoordeel, waaronder Christynn Jacobs, ’n voedseltegnoloog en mede-eienaar van Jacob’s Jam Company in Ceres; Heidi Erdmann, ’n onafhanklike kurator en kunshistorikus; Beverely Farmer, uitvoerende hoof van Women in Wine; en Tarryn Tomlinson, ’n baanbreker televisieaanbieder, openbare spreker en skrywer, asook stigter van Liveable Universal Access Consultants. Die beoordelaars het die uitdagende taak gehad om die wenners en naaswenners uit meer as 100 verdienstelike nominasies te kies.

Die toekenningsgeleentheid is deur die televisieaanbieder Heindrich Wyngaard, bekend vir die gewilde program Klop! op KykNET, aangebied. Sy unieke prettige styl het bygedra tot die gehoor se viering van die buitengewone prestasies van die tien wenners en nege naaswenners.

“Hierdie vroue inspireer hul gemeenskappe en motiveer ander om uitnemendheid na te streef. Hulle is vroue wat dien, voed, opvoed, troos, beskerm en hul gemeenskappe met oneindige liefde en sorg omhels,” het Michael Jonas, direkteur van die ATM, in sy verwelkoming gesê.

Die geleentheid is geskep om hierdie merkwaardige vroue ’n oggend van ontspanning, lag en positiewe energie te bied.

Marizaan Bredenkamp, besturende direkteur en stigter van Youth for Hope en Unit360, sowel as die wenner van die afdeling Fenomenale Vroue in Ondersteuning in 2023, was die motiveringspreker. Sy het almal aangemoedig om steeds die verandering te wees wat hulle in die wêreld wil sien.

“Vandag eer en vier ons julle – die vroue wat onuitwisbare bydraes tot ons streek gemaak het. Julle toewyding aan julle werk, julle verbintenis tot julle gemeenskappe en julle onwrikbare vasberadenheid om ander op te hef gaan nie ongesiens nie. Julle is die draers van vooruitgang, die bewaarders van ontwikkeling, en die kampvegters vir geregtigheid en gelykheid,” het die KWDM-burgemeester, dr. Elna von Schlicht, in haar hoofrede gesê.

Sy het ’n spesiale burgemeesterstoekenning aan die jong Dieuwke-Jean Linee gegee en haar erkenning gegee vir haar bydrae tot die herinnering van Krotoa deur haar skildery van dié historiese figuur, wat nou in die kloktoring van die Groote Kerk in Kaapstad vertoon word.

Die wenners, naaswenners en gaste het geskenke en gelukkige prystrekkings van die KWDM en vennote ontvang, insluitend die Afrikaanse Taalmuseum en-monument, die Historium Trust, Jacob’s Jam, Tupperware SA, Ignite Consulting, Carlynn Andrews en Olga Randelhoff, ’n Avon-verteenwoordiger.

Vroue van die Drakenstein-vallei wat vereer is, sluit in:

. Petro Gordon – Fenomenale Vrou in die bevordering van Afrikaans;

. Petra Nel – Fenomenale Vrou in bestuur;

. Veroeshka Grain – Fenomenale Vrou in passie (Veroeshka is gekies vir die Bokke se vrouespan wat in Julie en Augustus aan die Olimpiese Spele in Parys deelgeneem het);

. Leezil Laubscher – Fenomenale Vrou in ondersteuning (naaswenner); en

. Theresa van der Merwe – Fenomenale Vroue entrepreneur (naaswenner).

You need to be Logged In to leave a comment.