Speurders van die Kaapse Wynland-polisiedistrik het voorverlede week erkenning ontvang vir hul goeie werk om misdadigers lank agter tralies vir hul dade te laat boet.
Brig. Neville Malila, die waarnemende kommissaris van die Kaapse Wynland-polisiedistrik, het erkenning aan verskeie polisielede gegee tydens ’n distrik-misdaadbekampingsforum wat op 22 Julie by die Paarl-Oos-polisiekantoor gehou is.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, sê Malila het sertifikate oorhandig aan die speurders wat op dié dag vir hul goeie werk geprys is.
“In sommige van hierdie ernstige sake wat ondersoek is, soos moord, het AO Marlon Cupido van Tulbagh-speurders ’n skuldigbevinding verseker in ’n moordsaak waar beskuldigde een en beskuldigde twee elk tot 25 jaar gevangenisstraf vir moord en vyf jaar vir diefstal gevonnis is,” sê Seekoei.
“In ander ’n onverwante saak het ’n gewone rooftogsaak wat by die Wellington-polisie aangemeld en ondersoek is, gelei tot ’n skuldigbevinding van 15 jaar gevangenisstraf met vyf jaar opgeskort vir vyf jaar. By die Bonnievale-polisie is die verdagte in ’n moordsaak, waar die slagoffer met ’n mes gesteek is, agt jaar direkte gevangenisstraf opgelê.
“Ander skuldigbevindings was vir die beskadiging van infrastruktuur wat tot 15 jaar gevangenisstraf gelei het, poging tot moord waar twee beskuldigdes 15 jaar elk tronk toe gestuur is, en ’n rooftogsaak waar vyf jaar gevangenisstraf opgelê is.”
Malila het die speurders bedank vir hul onbaatsugtige diens en onwrikbare toewyding om geregtigheid te soek vir diegene wat nie meer vir hulself kan praat nie. Hy het dit duidelik gemaak dat hul werk ’n verskil maak.
“Aan die toegewyde speurders wat onvermoeid werk om geregtigheid aan die slagoffers en hul gesinne te bring – jul uitstaande werk in moordsake gaan nie ongesiens verby nie. Jul meedoënlose strewe na waarheid, noukeurige aandag aan detail en jul toegewydheid aan geregtigheid het gelei tot skuldigbevindings wat afsluiting en genesing gebring het vir diegene wat geraak is. Jul kundigheid, passie en toewyding is ’n krediet vir jul beroep.”