Die Wes-Kaapse LUR van onderwys, David Maynier, sê die provinsie het meer as 50 000 matrikulante wat geslaag het. Die Wes-Kaap pronk met ’n slaagsyfer van 81,54%, wat die matrieks van 2023 in hul eindeksamen opgelewer het.
“Elkeen van ons 50 520 kandidate wat geslaag het, het aan die vereistes voldoen om toegang tot hoër onderwys te kry, met 26 182 kandidate (42,2%) wat met ’n baccalaureusgraad kwalifiseer om universiteit by te woon – ons hoogste getal baccalaureusgraderings nog!
“Ons Wes-Kaapse kandidate het die top-wiskunde-slaagsyfer met 75,4% behaal, en die top- fisiese wetenskappe-slaagsyfer met 82,2%. Dit is kritieke vakke vir die nasionale en provinsiale ekonomie, en ons is bly om verbeterings in albei te sien in vergelyking met 2022. Ons het ook die tweede hoogste onderskeidingskoers, met 24 982 vakonderskeidings wat aan kandidate in die Wes-Kaap toegeken word.”
Wat volgens Maynier selfs meer indrukwekkend is, is die feit dat die retensiekoers van gr. 10 tot gr. 12 ook tot 69,3% toegeneem het.
“Om sowel die slaagsyfer as die retensiekoers in ’n positiewe rigting te laat beweeg, is ’n moeilike taak, en ons is bly dat meer van die gr. 10-klas van twee jaar gelede geskryf en hul matriekeindeksamen geslaag het.”
Maynier het in ’n verklaring ook die slaagsyfers van die onderskeie plaaslike onderwysdistrikte onthul. Die Kaapse Wynland-onderwysdistrik, waaronder die Paarl en Wellington, is een van drie distrikte wat minder as ’n 80%-slaagsyfer behaal het, met ’n persentasie van 74.61%. Die slaagsyfer van die onderskeie plaaslike skole is soos volg:
Al-Azhar (90%); Bergrivier Sekondêr (70,4%); Boland Landbouskool (100%); Charleston Hill Sekondêr (72,2%); Desmond Tutu Sekondêr (74,7%); die Hoërskool Franschhoek (89,8%); die Hoërskool Gimnasium Paarl (99,5%); Groendal Sekondêr (68,6%); die Hoër Jongenskool Paarl (99,4%); Hugenote Hoërskool (97,5%); Ihlumelo Junior Sekondêr (76,4%); Klein Nederburg Sekondêr (74,5%); die Hoër Meisieskool La Rochelle (100%); die Hoërskool Labori (94%); New Orleans Sekondêr (64,3%); Noorder Paarl Hoërskool (76,3%); die Hoër Meisieskool Paarl (100%); Paulus Joubert Sekondêr (61,1%); Wellington Sekondêr (63,9%); en Weltevrede Sekondêr (56,6%).
Die prysuitdeling vir die Wes-Kaapse nasionale seniorsertifikaat (NSS) word 30 Januarie by Leeuwenhof in Kaapstad gehou, waar die 2023-matrikulante en talle skole vir hul uitstaande prestasies vereer sal word.

