Die raad van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het die verslag deur ‘n eksterne ondersoeker van die hand gewys wat aangestel is om sy geskorste munisipale bestuurder vir beweerde onreëlmatighede wat glo met uitbetalings verband hou, te ondersoek.

Die raad het verlede maand in die ondersoek belê te midde van bewerings dat Henry Prins, wat op 16 April tydelik geskors is, en nog ‘n direkteur betrek is by beweerde onreëlmatige uitbetalings, wat glo miljoene beloop.

Die ondersoek is binne ‘n maand afgehandel en die raad sou Vrydag (23 Mei) op ‘n geslote raadsvergadering in Worcester oor die uitkoms daarvan besin.

Volgens Donovan Joubert, die raad se Speaker, is daar op dié geslote vergadering besluit om nie die verslag van die eksterne ondersoeker te oorweeg nie.

“Daar is bevind dat die opdrag vir die ondersoek nie ingevolge ‘n vorige raadsbesluit uitgevoer is nie.

“Die raad verseker inwoners dat ‘n verklaring uitgereik sal word sodra die proses volledig afgehandel is.

“Intussen bly die aangeleentheid vertroulik en geen verdere inligting kan tans bekend gemaak word nie,” het hy by navraag aan Paarl Post gesê.

Joubert het nie verder uitgewei oor wat die volgende stap in die ondersoek is nie.

Hy het verder aangevoer dat Ingrid Barnard intussen waargeneem het as munisipale bestuurder in die distrik.

Sy vervang dus vir Wilhelm Markus, die direkteur vir gemeenskapsdienste by die Weskus-distriksmunisipaliteit, wat verlede maand met Prins se tydelike skorsing die waarnemende rol ingeneem het.

Die munisipaliteit wou verlede maand nie oor die aard en meriete van die klagtes uitwei nie. Hy wou ook nie sê of enige ander amptenare saam met Prins vir die bewerings ondersoek is nie.

‘n Distriksraadslid het wel verlede maand op voorwaarde van anonimiteit aan die koerant gesê Prins het glo gevra vir ‘n salarisverhoging en die regte administratiewe prosesse vir só ‘n verho-

ging is glo nie gevolg nie.

“Daar was ander senior amptenare wat meer as die munisipale bestuurder gekry het, dus het die raad nie fout daarmee gesien om die wanbalans in die salarisskaal uit te stryk nie.

“In die geval van die munisipale be- stuurder het die provinsie die verhoging en betalings goedgekeur, op voorwaarde dat Prins se nuwe lone aan die salaris- skaal van sy huidige termyn voldoen.

“Prins is egter toe ook betaal op grond van die 2017-’22-salarisskaal en die burgemeester het toe na die raad gekom vir hierdie betalings om goedgekeur te word – nadat die geld reeds betaal is en sy daarvoor geteken het. Sy [die burgemeester] het geensins omsigtigheid toegepas nie.

“Die munisipale bestuurder se verhogings moes aan die salarisskaal van sy huidige termyn voldoen. Sy het glo eers later besef dat die betalings teen die beslissing wat deur die provinsie gemaak is, gegaan het,” het die raadslid verlede maand verklap.

You need to be Logged In to leave a comment.