Die raad van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) hoor môre (Vrydag 23 Mei) wat die uitkoms is van ‘n interne ondersoek teen Henry Prins, sy munisipale bestuurder, wat op 16 April voorlopig geskors is te midde van beweerde onreëlmatighede wat glo met uitbetalings verband hou.
Prins se skorsing het op ‘n geslote vergadering plaasgevind.
Die munisipaliteit het toe by navraag bevestig dat Wilhelm Markus, die direkteur vir gemeenskapsdienste by die Weskus-distriksmunisipaliteit, as munisipale bestuurder waargeneem het.
Paarl Post het verlede maand berig dat Prins en die KWDM se direkteur vir gemeenskapsdienste, Piet Williams, betrek word by beweerde onreëlmatige uitbetalings, wat glo in die miljoene loop.
LEES HIER: Wynland-distrik se munisipale bestuurder tydelik geskors
Die munisipaliteit wou nie in daardie stadium oor die aard en meriete van die klagtes uitwei nie. Hy wou ook nie sê of enige ander amptenare saam met Prins vir die bewerings ondersoek is nie.
‘n Raadslid het verlede maand op voorwaarde van anonimiteit aan die koerant gesê Prins het glo gevra vir ‘n salarisverhoging en die regte administratiewe prosesse vir só verhoging is glo nie gevolg nie.
“Daar was ander senior amptenare wat meer as die munisipale bestuurder verdien het, dus het die raad nie fout daarmee gesien om die wanbalans in die salarisskaal uit te skryk nie.
“In die geval van die munisipale bestuurder het die provinsie die verhoging en betalings goedgekeur, op voorwaarde dat Prins se nuwe lone aan die salarisskaal van sy huidige termyn voldoen.
“Prins is egter toe ook betaal op grond van die 2017-2022-salarisskaal en die burgemeester het toe na die raad gekom vir hierdie betalings om goedgekeur te word – nadat die geld reeds betaal is en sy daarvoor geteken het. Sy [die burgemeester] het geensins omsigtigheid toegepas nie.
“Die munisipale bestuurder se verhogings moes aan die salarisskaal van sy huidige termyn voldoen. Sy het glo eers later besef dat die betalings teen die beslissing wat deur die provinsie gemaak is, gegaan het,” het die raadslid verlede maand verklap.
Jo-Anne Otto, die KWDM se woordvoer- der, het vandeesweek by navraag gesê die interne ondersoek is afhandel.
“Ingevolge die betrokke wetgewing moet die raad nou oor hierdie verslag besin.
“ ’n Raadsvergadering vir hiedie doel- eindes is vir Vrydag (23 Mei) geskeduleer.
“In hierdie stadium kan geen kommenteer oor die ondersoek gelewer word nie. Die munisipaliteit sal inligting oor die aangeleentheid bekend maak sodra dit aan hom beskikbaar gestel word.”


