Die Wynland-distrik se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het vandeesweek gesê dit is vir hom kommerwekkend dat raadslede nie by GPF-vergaderings in die Drakenstein-munisipale gebiede uitkom nie en het terselfdertyd ’n beroep op raadslede gedoen om hul jaarlikse wyksbegrotings van sowat R260 000 per wyk te gebruik vir projekte wat fokus op misdade soos gesins- en geslagsgeweld, asook om jong misdadigers uit die strate te kry.
Klaas Morkel, die adjunkvoorsitter van die Wynland-distriks-GPF, het vandeesweek aan Paarl Post gesê politici maak dikwels die fout om aan te neem dat misdaadbekamping slegs die polisie se verantwoordelikheid is.
“Die versuiming van raadslede om GPF-vergaderings by te woon is iets wat ons oor die hele distrik kon waarneem – dit is glad nie eie aan die Drakenstein nie.
“Ons is wel bekommerd dat hierdie munisipaliteit, soos baie ander, finansiering van die provinsie ontvang vir projekte wat nooit uitgevoer word nie.
“In Drakenstein is daar die jaarlikse 365 dae teen geslagsgeweld, maar die enigste tye wanneer ons van die munisipaliteit hoor, is aan die begin van die nasionale 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders en dan op dae soos Jeugdag en Vrouedag.
“Dit is dan ook belangrik vir inwoners om te weet dat die munisipaliteit jaarliks ’n begroting aan sy raadslede vir wyksprojekte gee. Hoekom kan hierdie geld nie vir programme aangewend word om ons kommerwekkende styging in gewelddadige misdade, veral onder ons jeug, aan te pak nie?” vra Morkel.
“Misdaadbekamping en die opvoeding van inwoners oor die rol wat hulle in gemeenskappe kan vervul, is nie net die polisie se werk nie. Raadslede het ’n rol om te vervul en in die geval van die Drakenstein word jaarliks geld vir die verskeie wyke beskikbaar gestel.
“Ons sal graag wil sien dat hierdie geld aangewend word vir dinge wat waarde tot gemeenskappe toevoeg. Die GPF’s kort die ondersteuning van raadslede en die munisipaliteit as geheel.”
Koos le Roux, Drakenstein se Speaker, het by navraag aan Paarl Post gesê sy kantoor en die raad ondersteun enige wyksprojek wat bydra om misdaad te bekamp.
Hy sê verskeie vorms van finansiering en ondersteuning word vir die doel beskikbaar gestel.
“Daar is gefokusde projekte met opleiding van veiligheidsbeamptes, waarvoor R470 000 begroot word, ondersteuning aan buurtwagte met ’n begroting van R260 000 en die installering van veiligheidskameras in wyke 7, 10, 18, 22, 25 en 29 ten bedrae van R220 000.
“Hierdie finansiering is natuurlik aanvullend tot die munisipale begroting vir wetstoepassing en sluit nie die kamera-finansiering vir die vorige boekjaar, waar dubbeld soveel uitgerol was, in nie.”
Volgens Le Roux kan raadslede by GPF-vergaderings op hoogte bly van die misdaadtendense in hul sektors, en kan hierdie syfers dan deel uitmaak van die jaarlikse strategiese beplanning.
“Raadslede moet hul gemeenskappe en hul behoeftes oordra in die regeringsbegrotings en dit in munisipale begrotings geakkommodeer kry. Misdaadvoorkoming is ’n prioriteit en het derhalwe ’n gefokusde departement met die verantwoordelikheid.
“Raadslede moet hul sektor-GPF-vergaderings bywoon om verhoudings met die polisie en buurtwagte te bou.”