Nadat die raad van die Kaapse Wynland-distrik nie daarin geslaag het om ‘n ondersoek na beweerde onreëlmatighede teen sy geskorste munisipale bestuurder binne die vereiste 90 dae af te handel nie, is Henry Prins Vrydag (14 November) in sy amp herstel. Sy voorlopige skorsing is gevolglik as ongeldig en onwettig verklaar.
Paarl Post verstaan dat die raad se eksterne regsdienste op ‘n geslote raadsvergadering, wat die afgelope Donderdag (13 November) gehou is, die raad verwittig het dat hy die ondersoek – wat ook ‘n tugverhoor moes insluit – binne 90 dae moes afhandel.
‘n Distriksraadslid het vandeesweek op voorwaarde van anonimiteit vertel dat Prins nie ligtelik daarvan gaan afkom nie.
Dit is dieselfde raadslid wat vertel het die munisipaliteit se eksterne regsdienste het aangevoer dat ondersoeke van hierdie aard binne 90 dae afgehandel moet word.
“Hoewel hy die tugstappe ontduik het, is hy heraangestel op voorwaarde dat hy die geld wat aan hy aan die munisipaliteit verskuldig is, sal moet terugbetaal.
“Die voorlopige ondersoek vroeër vanjaar het dus bewyse van finansiële ongerymdhede gevind, wat met die uitbetaling van sy salaris en ‘n selfoon- toelaag verband hou.
“Een van die bewerings was dat hy sy selfoontoelaag van R2 000 met R10 000 verhoog het. Hy sal al hierdie geld wat hy onregmatig bekom het, moet terugbetaal,” verduidelik die raadslid.
Volgens die raadslid is geen bepaalde tydlyn vir die terugbetaling in hierdie stadium opgestel nie.
“Die finansiële hoof in die distrik is verantwoordelik vir daardie terugbetalingsooreenkoms,” voeg die raadslid by.
Prins is op 16 April vanjaar geskors hangende die uitkoms van ‘n ondersoek oor onreëlmatighede wat glo met uitbetalings verband hou.
Die munisipaliteit wou in daardie stadium nie uitwei oor die meriete van die ondersoek nie.
Paarl Post kon by nadere ondersoek wel uitvind dat Prins glo daarvan beskuldig is dat hy ‘n salarisverhoging aangevra het, maar die gepaste administratiewe kanale is glo nie gevolg nie.
Die bewering was dat Prins vir ‘n onbekende tydperk ‘n hoër salaris ontvang het, wat teenstrydig is met wat deur die provinsie goedgekeur is.
LEES: Wynland-raad aanvaar nie verslag oor geskorste amptenaar
Dr. Elna von Schlicht, die burgemeester van die distrik, het by navraag bevestig dat Prins verlede week in sy amp herstel is.
“Die raad het op ‘n spesiale vertroulike raadsvergadering, wat op Donderdag 13 November gehou is, formeel en finaal besluit dat nie met die tugstappe teen mnr. Prins voortgegaan sal word nie.
“Daar is op die vergadering beslis dat mnr. Prins se tydelike skorsing van April vanjaar met onmiddelike ingang opgehef word.
“Hy het gevolglik Vrydag (14 November) sy pligte as munisipale bestuurder van die distrik hervat,” het Von Schlicht by navraag gesê.
Paarl Post wou by verdere navraag meer duidelikheid oor die aangeleent- heid hê en het die volgende vrae aan Von Schlicht gestel, maar dit is egter nie teen druktyd beantwoord nie:
Watter spesifieke inligting of bevindings het die grondslag gevorm vir die raad se besluit om nie met tugstappe voort te gaan nie?
Is hierdie besluit ingelig deur die uitslag van ‘n eksterne of onafhanklike ondersoek?
Indien ‘n eksterne ondersoek gedoen is, wie het dit uitgevoer en wat was die kernbevindinge?
Indien geen eksterne ondersoek gedoen is nie, op watter gronde het die raad bepaal dat die bewerings nie verdere optrede regverdig nie?
Was daar enige voorwaarde vir mnr. Prins se terugkeer na sy amp?
Reageer asseblief op gerugte dat die raad glo besluit het dat hy slegs mag terugkeer op voorwaarde dat hy die geld terugbetaal wat verband hou met die bewerings wat aanvanklik tot sy voorsorgskorsing gelei het.





