Die bekende wynfamilie van Wellington, Truter Family Wines, het pas ’n wyn wat na die geskiedkundige Wellington-blokhuis vernoem is, vrygestel.
In sy strewe om die beste wyndruiwe te vind, het die wynmaker en mede-eienaar van Truter Family Wines, Hugo Truter, ’n paar jaar gelede heel toevallig op dertigjarige Grenache-wingerd op die kruin van Piekenierskloofpas afgekom. Hierdie ontdekking het gelei tot die bekendstelling van Blokhuis 2016 Grenache Blanc waarvan net 300 bottels uit enkelvat vrygestel is.
Hierdie beperkte uitgawe is handgenommer, wasverseël en verpak in ’n pragtige, unieke leer-en-bamboes-houer. Dit is die eerste kultivar wat onder die Blokhuisetiket bekendgestel sal word waaruit jaarliks ’n aantal vernuwende handgemaakte wyne voortgebring sal word.
Hoewel Grenache taamlik onbekend in Suid-Afrika is, word die variëteit met sy vermenging van Sauvignon Blanc se skerp, suur, tintelende geure en die volrondheid van Chardonnay reeds hoog aangeskryf. Hugo en sy vrou, Celeste, albei wynmakers, het Grenache met sy uitstaande eienskappe as die voorloper vir die Blokhuisreeks gekies omdat dit hul passie vir wynmakery vasvang.
Hoewel teeplantasies meestal in dié omgewing voorkom, is die bergagtige terrein van Piekenierskloof ideaal vir die aanplant van Grenache-druiwe.
Die wingerde word sowat 520 meter bo seespieël in ’n droë, rotsagtige terrein aan uiterste temperature blootgestel wat wissel van warm, droë somers tot snerpende koue winternagtemperature.
Die druiwe is einde Februarie met die hand gepluk, in ’n mandjiepers gepars en ná gisting is die sap na ’n tweede-vul Franse eikehoutvat vertap. Die wyn is ná die gistingproses agt maande in dieselfde vat, en ná bottelering vir nog ses maande, verouder om só die uitsonderlike, ryk karakter van die wyn voort te bring.
Hugo en Celeste, gesoute wynmakers, het hul eerste wyn in 2010 vrygestel en werk sedert 2013 voltyds aan die Truter-familiewynonderneming.
Sedertdien het hulle ’n aantal wyne met druiwe van reg oor die Wes-Kaap geskep.
Die naam Blokhuis verwys na die behoue drievlak-blokhuis buite Wellington langs die pad na Tulbagh. Dit is ’n nasionale monument en is in die Anglo-Boereoorlog in die laat 1800’s deur Britse magte opgerig. Die Blokhuis is een van ongeveer 8 000 reg oor Suid-Afrika en is die verste suid. Dit, tesame met die westerse wingerde waar die Grenache-druiwe vir die eerste Blokhuis-vrystelling verkry is, toon ’n naam wat geskiedenis en visie het.
Blokhuis 2016 Grenache Blanc kos R495 per bottel en kan bestel word by admin@truterfamilywines.co.za of hugo@truterfamilywines.co.za.