’n Man wat deur die Valke daarvan verdink word dat hy die leier van ’n verregse groep en die meesterbrein van ’n komplot teen die staat is, is vroeër die maand in hegtenis geneem nadat die Valke sy huis op ’n Wellingtonse plaas deursoek het.
Gerhard Visagie (50) het op 12 Julie op ’n aanklag van die onwettige besit van ammunisie in die Wellington-landdroshof verskyn. Volgens kapt. Philani Nkwalasi, woordvoerder van die Valke, is Visagie Donderdag 11 Julie by sy huis vir die onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem nadat die Valke se eenheid vir misdaad teen die staat (Cats) en die polisie se misdaadintelligensie-eenheid sy huis deursoek het.
Visagie het verlede week aan ander media gesê dat hy nie tuis was toe die Valke sy huis deursoek het nie. Sy vrou was volgens hom alleen tuis. Sy het hom gebel toe die Valke by hul huis opdaag en hy het dadelik huis toe gery. Hy is ’n veiligheids-konsultant en was in daardie stadium in Houtbaai om ’n kliënt te spreek. Hy het glo vir sy vrou gesê die polisie kan die huis deursoek omdat hulle niks het om weg te steek nie. Sy vrou het die polisie na die kluis geneem waarin sy vuurwapens en lisensies vir elkeen gehou is. Ander polisielede het glo ’n banksak met patrone in ’n kas elders in die huis gevind. Visagie is met sy aankoms in hegtenis geneem.
Visagie het gesê hy is wel deel van ’n WhatsApp-groep met die naam “Eendrag maak mag”, maar dat dit gestig is vir plaasbewoners en sakelui vir raad oor veiligheid op plase. “Nou, soos ek hier staan, sal ek nooit by so ’n organisasie betrokke raak nie,” het hy gesê.
Visagie sal op 9 September weer in die Wellington-landdroshof verskyn. Paarl Post kon Visagie nie teen druktyd vir kommentaar bereik nie.
.
A resident of a Wellington farm, who is being accused by the Hawks of being the leader of a right-wing group and the mastermind behind a plot to overthrow the government, was arrested on 11 July for the possession of illegal ammunition.