Vicky het met trots die Laerskool Paarl Gimnasium, waar haar seun Anri skoolgaan, se vlag op Kilimandjaro laat wapper.Foto’s: Verskaf


Vicky du Preez raak sommer emosioneel wanneer sy weer aan die staptog teen die steiltes van Kilimandjaro dink.

“Ek verlang verskriklik terug na die belewenis op die berg,” se dié dowe 44-jarige klimmer van Wellington.

Haar man, Rossouw, het haar woorde aan Paarl Post getolk.

“Van als wat sy al in haar lewe beleef en gesien het, was dit vir haar die grootste ervaring nóg. Toe die span weer van bo terugkeer, het sy en haar mede-klimmer presies dieselfde somber blues of verlange na dié besonderse ervaring gevoel.”

As lid van die Climb4TheDeaf-uitdaging het sy saam met ’n span dowes die yslike berg van 5 895 m uitgeklim as deel van bewusmaking en geldinsameling vir kinders wat doof gebore is.

Die geld is bestem vir dowe kinders wat, met die regte hulp en terapie, ’n goeie kans het om gehoor te kweek en so ’n normale bestaan te voer.

Die staptoer het van 20-29 Augustus geduur en oor sowat 70 km in afstand gestrek. Dit bied vyf verskillende terreine of fases wat wissel van klipperige gebied tot sagte sand en steiltes wat ten einde in sneeu oorgaan.

“Daar was 24 bagasiedraers, van wie twee ook doof is, van Tanzanië wat saam die berg uitgeklim het om te help dra en as gidse die roete aan te dui. Daar was ook ’n dokter om mediese bystand te lewer,” tolk Rossouw.

Ten spyte van die armoede wat Vicky in Kenia waargeneem het, sê sy die plaaslike mense toon ’n rykdom van vriendelikheid.

“Die Tanzaniese bagasie­draers het ons Suid-Afrikaners baie moed ingepraat en ondersteuning teen die steiltes gebied,” vertel sy.

“Toe ons hoogtes van 4 000 m bo seespieël bereik, het ons drie dae lank bo die wolke gestap. ’n Mens kon niks onder die wolke sien nie – dié gevoel was onbeskryflik. Mense moet self daar wees om die uitwerking in jou gees te verstaan.”

Die stappers op die berg loop vir dae lank bo die wolke.

Tog was dit nie alles speletjies nie, meen Vicky. Hoe steiler die gradiënt, hoe stadiger was die beweging.

“Jy kan nie waag trippel badkamer toe, of vinnig buk as jy jou bril laat val nie.

“Die hoë lugdruk en min suurstof dwing jou om so versigtig moontlik te beweeg, anders kap jy sommer om of braak van naarheid,” verduidelik Vicky.

Die uitdaging was ook deel van die Miss Deaf SA 2022-kompetisie.

Hoewel die Kilimandjaro-staptog die toppunt van haar aspirasies was, moes Vicky ook die loopplank van Miss, Mr & Mrs Deaf SA in Durban aandurf.

“Dit was snaaks,” meen Vicky. “Ek het pas teruggekeer van die rowwe omgewing van die berg, net om direk by die sagte gepamperlang van die skoonheidskompetisie in te val.”

MDSA

Vicky het op haar gemak geskitter by die MDSA-glansgeleentheid.

Die ervaring was vir Vicky tonne bederf met ontwerpersklere, swemkostuums, luukse roompies, parfuum en hope fotosessies op die strand en ’n deftige onthaal by The Playhouse Company.

“Al my mede-deelnemers was so lieflik, pragtig en saggeaard. Die kompetisie was pragtig! Maar my hart was gevestig in die uitdaging van iets so magtig as Kilimandjaro en die bewusmaking vir dowe kinders wat daarmee saamkom.”

Wanneer hulle moes toustaan vir ’n foto of die loopplank, het Vicky almal voorkeur voor haarself gegun.

“Dit was alte lekker om my hoëhakskoene vir die vroue te leen en eerder te fokus om hulle te laat skitter by die onthaal, meer as myself. Soos die meisies hul lopies op en af agter die skerms van die glansaand oefen, was ek heel op my gemak en het heerlik teruggesit en ontspan.

“Ek het soveel vrede in my hart ervaar toe die wenners van Miss, Mr & Mrs Deaf SA bekroon is.

“My eie doelwit en hartsbegeerte het ek reeds op daai berg bereik.”

Die ervaring is een wat sy sonder twyfel weer sal aanpak. “Volgende keer,” sê sy vasbeslote, “wil ek graag Mount Everest uitklim.”

You need to be Logged In to leave a comment.