Die tydelike opskorting van rugby in Suid-Afrika het vir Wellington se Blou Bul en Tutu Tyger-stigterslid Cornal Hendricks meer tyd gegun om uit te reik na sy gemeenskap.
Die Cornal Hendricks Foundation en lede van die Tutu Tygerklub het op Mandela-dag in samewerking met Outside the Bowl Africa en Excellence Cash and Carry, die geleentheid gebruik om behoeftige families se nood te verlig.
Die span het die oggend 50 kospakkies aan bejaardes en 67 speelgoedpakkies vir kinders by die Bovlei Gemeenskap Sentrum langsaan Wagenmakersvallei Laerskool, geskenk.
Daarna het hulle in Hillcrest warm sop en brood aan die gemeenskap uitgedeel. Ongeveer 300 mense was vir die middag gevoed.
Hoewel hy as’t ware nie ‘n groot voorstaander van die kalklig is nie, is dit vir Cornal ‘n groot voorreg om sy platform te kan gebruik om ‘n verskil te maak in die samelewing.
“Ons is goed grootgemaak en dis altyd in ons hart om mense te help. Die rede vir die Cornal Hendricks Foundation is om vir kinders in minder bevoorregte gebiede ’n regverdige kans te gee in die lewe. Ons is daar om saam met hulle die pad te stap,” sê Cornal.
Hy en mede Wellington-boorling en rugbyster, Juan de Jongh, is ook betrokke by die Tygerberg kinderhospitaal se kindertrust. Die trust help met gespesialiseerde mediese sorg vir ongeveer die helfte van die 2,4 miljoen kinders wat in die Wes-Kaap woon.
Cornal fokus op jaarlikse uitreikingsinisiatiewe- en sportprogramme, en ook die insluiting van kuns en kultuur. Juan plaas weer klem op die bewusmaking van die Tygerberg-hospitaal se skool.
Hierdie geldinsamelingsveldtogte sal ook deur middel van die crowdfunding-platform, Given Gain, gefasiliteer en bestuur word.