’n Paar warm sonstrale het Maandag geskyn asof met die doel om die amptelike bekendstelling van die Wellington-nagskuiling vrolik te verwelkom.
Paarl Post het sonder uitnodiging dié eksklusiewe byeenkoms van Drakenstein-munisipaliteit, op die munisipale terrein agter die NG-moedergemeente in Hoofstraat, bygewoon.
Gevleuelde woorde van sentimente agter dié projek is deur die uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, uitbasuin soos ’n trotse herder van sy burgemeesterskomitee, wat volgens hom alleenlik dié hawe vir die –loses geskep het, hoewel menigte rolspelers nie met Poole saam stem nie.
’n Veilige hawe van herintegrasie
Ses vragskiphouers is te danke aan die DM met leefbare aanpassings in ’n veilige heenkome vir Wellington se haweloses omgeskep.
Elke houer is netjies binne met insolasie-lae, vensters, deure en kragtoevoer toegerus. Twee houers is met lopende water in aparte ablusiegeriewe vir mans en vroue omgeskep. Die ander vier houers sal as snoesige slaapplek dien, waarvoor hope matrasse voorlopig aangeskaf is.
Die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, sê die proses van inname sal voorsiening maak vir alle haweloses, met die prioritisering van vroue, bejaardes en gestremdes.
“Aparte slaapgeriewe is daargestel vir vroue en mans met toegang tot ablusie- en stortgeriewe vir onderskeidelik mans en vroue, wat 24-uur-sekuriteit sal geniet.”
Poole het in sy toespraak gesê 48 mense sal hier gehuisves kan word.
“En dié 48 gaan op hierdie stukkie grond verdubbel word. Dié stukkie grond hier agterkant, is munisipale grond. Ons gaan hierdie ding dupliseer, en ons gaan hom vergroot,” spog hy.
Die geskiedenis van die nagskuiling
Die aanloop tot die trotse bekendstelling kom al ses jaar aan, meen Clifford Asia van G-Voucher, wat al jare lank met plaaslike haweloses werk.
Die proses het groot samewerking tussen hom, ander plaaslike rolspelers en die munisipaliteit behels om dié droom te verwesenlik.
Dit is juis waarom sommige Wellingtonners teleurgesteld is dat hulle nie dié wonderlike viering kon bywoon nie.
“Ek hoop mooi foto’s is geneem en die haweloses se waardigheid word amptelik bevorder. Hulle het egter vergeet van mense wat lang jare op die grond gewerk het om die nagskuiling te bewaarheid. Maar nie een is genooi om die geleentheid saam te vier nie,” sê Laetitia Cupido, wat Wellington se haweloses elk op die naam ken.
Hedwig Moore, wat ook as ’n erkende figuur in die proses bekend is, sê: “My hart is baie seer en ek is eintlik woedend oor die manier waarop hierdie projek vir politieke punte gekaap is.”
Op sy beurt sê die administrateur van die Wellington-aksiegroep (WAG/Stop), Francois Theron, op Facebook dat die haweloses die hooffokus moet bly.
“My kommer bly die haweloses en natuurlik die betrokke proses om diegene in die samelewing te herintegreer.
“Wat behels die prosedures en prosesse? Wie is die amptelike NGO wat dit moet bestuur; wie is hul direksie en wat is hul baanrekord; en dan die rits vrae oor ‘wat nou’?,” het Theron gevra.
Die toekoms van die nagskuiling
By navraag het Esau herhaal dat die munisipaliteit ’n versoek vir voorstelle vir die bestuur van die nagskuiling deur ’n NGO adverteer het. Geen toekenning is al gedoen nie.
“Twee NGOs het belangstelling getoon en voorleggings by die munisipaliteit ingedien. Aanbevelings en toekennings word nou gefinaliseer en die suksesvolle NGO sal diensooreenkomstig ingelig word.”
’n Verwagte datum vir die amptelike bekendstelling van die nagskuiling se bestuur is nog nie bekend nie.
Wat wel bekend is, is dat die suksesvolle NGO vir die voeding van die begunstigdes verantwoordelik sal wees.
“Die Drakenstein-munisipaliteit sal verantwoordelik wees vir die instandhouding, en reëlings in hierdie verband sal kontraktueel met die suksesvolle diensverskaffer gefinaliseer word,” het Essau gesê.
Wat doen wetstoepassing?
“Ons wetstoepassingsafdeling se rol is om deurlopend haweloses aan te moedig om uit die strate in te kom en liefs by die nagskuiling, wat ’n veilige hawe bied, aan te meld. Die primêre oogpunt is om hul menswaardigheid te herstel. Verder sal wetstoepassers alle verordeninge, wat deur enige lid van die nagskuiling verbreek word, toepas,” het Esau gesê.


