Wellington het weer eens die land se beste boereworsmaker opgelewer – die derde in vier jaar.
Tyron Adams (31) is die wenner van die 2023-Shoprite-Checkers-kampioenskap-boereworskompetisie.
Dié Wellington-gebore sjef het op 26 Augustus teen nege ander finaliste van oor die land heen in die groot eindronde, wat in Somerset-Wes gehou is, te staan gekom.
Tyron het vandeesweek aan Paarl Post vertel dit voel nog soos ’n droom.
“Ek is in ekstase! Dit was heeltemal onverwags en ek kan skaars wag om my boerewors op Shoprite en Checkers se winkelrakke te sien. Dit was ’n paar jaar moeilik om my eie onderneming te begin – veral sedert Covid getref het – maar moeilike tye maak sterk mense, en ek is gelukkig om ’n groep spesiale mense om my te hê wat my gemotiveerd gehou het.
“Dit is ’n droom wat waar geword het,” sê Tyron.
Hy besit sy eie kosmaak-, musiek- en geleentheidsbeplanning-onderneming in Wellington. Voor dit het hy sy loopbaan as omroeper by RadioKC in Paarl begin.
Musiek en kosmaak is immers in sy bloed, en so kombineer hy die twee in sy onderneming, Kumin & Khords.
Hy vertel hy het een keer tevore vir die Shoprite-Checkers-kampioenskap-boereworskompetisie ingeskryf, maar dit was op die nippertjie en hy het nie die inskrywingsvorm korrek ingevul nie.
“Vanjaar het ek besluit om dit vroegtydig en sorgvuldig te doen.”
Tyron sê hy het self sy boereworsresep geskep. Hy sê die geheim van ’n goeie wors is eerstens die vleis – dit moet topgehalte vleis bevat, asook net die regte vetinhoud.
“Dan moet jou speserye vars gemaal wees – byvoorbeeld, jou heel koljanderkorrels moet net tot die regte graad gerooster wees en dan gemaal word.”
Tyron sit ook ’n knippie droë tiemie by, wat hy vir die beste geur self uitdroog.
Verder wil hy nie te veel van sy geheime resep verklap nie.
Dié worsmaker het voorheen aan kosmaak-kompetisies deelgeneem en gewen – die McCain Disruption Challenge en Via se Kooppunt – en albei gewen.
“Die boereworskompetisie maak dit nou ’n hat-trick,” sê hy en glimlag.
Met sy jongste prestasie stap Tyrone weg met ongelooflike pryse, wat ’n splinternuwe Toyota Fortuner, R20 000 en die spogregte om as SA se boereworskampioen gekroon te word insluit.
En dit kon nie op ’n beter tyd kom nie. Hy vertel sy motor het ’n rukkie gelede probleme begin gee en hierdie aanwins van ’n Fortuner gaan reuse-treë vir sy onderneming beteken.
Nog ’n Wellingtonner, Gustav Piek, het in derde plek geëindig en daarmee ’n prys van R30 000 losgeslaan.
Hierdie kompetisie – nou in sy 31ste jaar – lok boereworsmakers uit alle vlakke van die samelewing, met duisende wat elke jaar inskryf.
Die inskrywings is deur verskeie uitdunrondes deur die Suid-Afrikaanse Sjefsvereniging (SACA) beoordeel.
Die top-tien het hul boerewors by die eindronde voor ’n beoordelaarspaneel koskenners opgedis, wat Zola Nene, Jeff Schueremans, James Khoza, Zanele van Zyl en Carmen Niehaus ingesluit het.
Tyron se wenresep sal van 8 September af by Shoprite- en Checkers-winkels landwyd beskikbaar wees – net betyds om die ster te wees om die honderde braaivure wat sekerlik oor die land heen vir die eerste Rugbywêreldbeker-wedstryd aangesteek gaan word.
Championship-boerewors bly ’n groot gunsteling onder die supermarkte se klante. Die afgelope jaar is genoeg wors verkoop om 47,7 miljoen boereworsrolle met ’n standaard 15-cm- stuk boerewors te maak. Dit is 7 155 km se Championship-boerewors, gelyk aan die lengte van 71 550 rugbyvelde!
Met hierdie hoeveelheid boerewors sou Shoprite en Checkers die Stade de France – die grootste stadion in Frankryk en plek vir die eindronde van die 2023 Rugbywêreldbeker – ’n boereworsrol vir elk van sy 80 698 toeskouers vir 591 wedstryde kon voorsien.
Die ander drie finaliste van Wellington vir 2023 se kampioenskap- boereworskompetisie was Xavier Blaauw, Roland Blaauw en Yvonne Blaauw.