Wellington se geliefde Marlene le Roux het met nog ’n toekenning weggestap.Foto:


Kunstekaap se uitvoerende hoof, Marlene le Roux, het op 19 Desember ’n Women of Wonder (WOW)-toekenning ontvang by ’n glansryke gala-dinee by die President Hotel in Kaapstad.

Die Women of Wonder (WOW)-toekennings is in 2015 begin met die visie van Farzana Mayet, uitvoerende hoof, om vroue in magsposisies sowel as gewone vroue wat uitsonderlike vlakke van onbaatsugtige diens lewer, te vereer.

Die WOW-toekennings het ’n internasionaal geakkrediteerde platform geword wat erkenning gee aan algemene buitengewone vroue wat ’n verskil maak in verskillende praktykvelde. Hierdie gesogte toekennings bring krag en invloedryke vroue saam, sowel as vroue wat na uitnemendheid streef – vroue wat sukses behaal het in hul professionele en persoonlike lewe, en wat die kwaliteite van leierskap beliggaam deur aktiewe, kreatiewe en integrerende pogings om sukses op persoonlike, nasionale en streeksvlak te behaal, om te besin oor maniere van insluiting en bemagtiging van vroue in die hoofstroomekonomie deur vaardigheids- en ondernemingsontwikkeling.

Le Roux het in haar aanvaardingstoespraak erkenning gegee aan die miljoene stemlose vroue wat weens talle omstandighede nie geleenthede of ekonomiese vryheid het om hul drome te volg nie. Sy het ook haar toekenning opgedra aan haar oorlede Tietie (Christine le Roux) – haar geliefde ma – en haar oorlede seun Adam George (15) wat serebraal gestremd was en op sy eiesoortige manier met haar en die wêreld gekommunikeer het.

Sy het soortgelyke erkenning gegee aan ander instellings en mense by wie sy krag put, soos die stigters van Lief en Leed in Mamre – ’n organisasie wat deur Michael September en Paul Arendse gestig is – albei serebraal gestremd. Sy het ook haar dankbaarheid aan die Kunstekaapdireksie sowel as Kunstekaap se personeel oorgedra vir “volgehoue, waardige diens aan die gemeenskap”.

Haar passievolle pleidooi was dat ons ons waardestelsel moet herbesin.

“Ek is ’n voorstander van vrede, maar vrede is nie moontlik sonder geregtigheid nie. Daarom gebruik ek aande soos hierdie om my stem sterk uit te bring dat ons by die boonste leierskap moet begin, met etiese leierskap op alle vlakke. My wens vir almal hier is om die mens te bly wat jy is en om die gemene wêreld te verstom met jou dade van vriendelikheid. Kom ons begin in ons huise, ons woonbuurte, ons kerke, moskees, sinagoges en begin om die mens raak te sien. Rassisme, homofobie, seksisme, beledigende taalgebruik, onverdraagsame godsdienspraktyke, misbruik van politieke mag, leiers wat boelie en al hierdie sosiale euwels het geen plek in ons samelewing nie. Laat ons verenig as vroue van verwondering terwyl ons liefde, vrede, vriendelikheid en boonop geleenthede na Suid-Afrika, die Afrika-kontinent en die wêreld as geheel bring,” het sy gesê.

Die WOW-toekennings se gewildheid het ontsaglik vinnig gegroei, met takke in onder meer Dubai, Mauritius, die Verenigde Koninkryk, Indië en Katar. Ander ontvangers by die onlangse gala-geleentheid sluit onder andere in die alombekende Carol Bouwer, bekende sjef Zola Nene, die Vrystaatse LUR van finansies Gadija Brown en mediapersoonlikheid Tanya Nefdt. Vorige bekroondes sluit in glanspersone soos Zoleka Mandela, Catherine Constantinides, Jenny Morris en Tracey Lange.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article