Hier is vrywilligers van die Guardians of the Valley besig om een van die talle vervalle grafte in die gebied te herstel. Hulle is van links Lian Hanneke, Godfrey Petersen, Koos Klaasen en Japhta Langeveld.Foto: John Martin


’n Wellingtonner wat al 17 jaar in Londen woon, het die verant­woordelik­heid geneem om die herstel van gevandaliseerde grafte in al die begraafplase in haar tuisdorp te organiseer en te koördineer.

Natasha Downe, ’n voormalige leerder van die Hugenote Hoërskool, is ’n ywerige menseregte-, diereregte- en politieke aktivis.

Sy het hierdie missie met die hulp van slegs ’n handjie vol individue begin aanpak en is baie entoesiasties en positief dat die projek ’n groot sukses sal wees.

“Ek besoek altyd ons familiegrafte wanneer ek tuis is en ek het met die jare met my eie oë gesien hoe die toestand van ons begraafplase versleg.”

Al woon Natasha al lank in die buiteland, het haar wortels diep in Wellington gebly. Dit is waar haar familie al langer as sewe geslagte woon.

“Ek was op ’n onlangse besoek baie hartseer toe ek ’n gat in my ouma se graf sien. My ouma was Dinah Adams, ’n stigterslid van die A.M.E. Kerk op Wellington.

“Ons geliefdes moet in vrede en waardigheid rus.

“Sedert my vroegste herinnering het ek en my ma elke Sondag ná kerk al ons geliefdes se grafte besoek en die begraafplaas lê my na my aan die hart.

“En sedert ek gesien het hoe my geliefdes se grafte geskend word, het ek ’n opname begin doen van al die beskadigde grafte. Ek het nie baie tyd gehad nie, maar het besluit dat iets oor hierdie nare epidemie gedoen moet word.”

Natasha sê sy het gesien die begraafplaas is nou ook ’n tuiste vir skelms en tikverslaafdes.

“Ek het van hulle genader om aan hulle te beduie dat dit nie reg is om ons afgestorwenes se grafte so te skend nie. ’n Paar van hulle het toe ingestem om my te help om my familiegrafte te herstel.”

En so het Natasha se idee om die dorp se begraafplase skoon te maak en ’n hopeloos negatiewe situasie in ’n positiewe gemeenskapsbouprojek om te skep, posgevat en die Guardians of the Graveyard Project is gebore.

Met haar terugkeer na Londen het sy haar huiswerk begin doen en met die hulp van haar niggie, Charlotte Heidemann, het hulle ’n plan van aksie in werking gestel.

Sedertdien het hulle drie mans gewerf wat onder die leiding van Godfrey Petersen, ’n voormalige buurman van Wellington, stelselmatig reeds omgevalle grafstene van grafte terug te plaas.

Hulle het in die Hillcrest-begraafplaas begin skoonmaak en in Februarie sal die projek na die Champagne-begraafplaas verskuif.

Die projek is nie net daarop gemik om plaaslike begraafplase van algehele verwoesting te vrywaar nie, maar ook om moderne sosiale epidemies in die Vallei op die gebied van geletterdheid, dwelmrehabilitasie, selfmoord­bewustheid, welsyn van diere asook begraafplaaswelstand aan te durf en om mense wat reeds goeie dade in die gemeenskap doen, te bevorder en diegene wat desperaat hulp nodig het in die regte rigting te help.

“Namate ons aanhou groei, verwag ons om ons sosiale verpligting verder te neem. Ons doel is om ’n bewustheid in ons gemeenskap te kweek oor ons gemeenskapsverantwoordelikhede, gesinswaardes en gemeenskapstrots en om respek te hernu. Ons hoop dat ons organisasie die missie sal bereik en ’n standaard en voorbeeld sal stel vir ander dorpe en gemeenskappe om selfs op nasionale vlak te volg.

“Ons moet ook besef dat dit nie net die verantwoordelikheid van die Drakenstein-munisipaliteit is om ons grafte in stand te hou nie. Ons het almal ’n verantwoordelikheid.”

Die kontakbesonderhede vir Guadrdians for the Valley is: info@guardiansforthevalley.co.za.

Die webtuiste sal ban die einde van Februarie aanlyn wees: www.guardiansforthevalley.co.za.

Die organisasie het dringend skenkings van sement en sand nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.