Die Toyota US Woordfees vind vanjaar van 10 tot 16 Oktober in die pragtige Stellenbosch plaas.
Vanjaar is daar meer as 220 aanbiedinge op die feesprogram en die feestema is “Wild”.
Van opwindende produksies op die planke wat jou sal laat skaterlag tot dramas is daar beslis iets vir almal se smaak.
Vanjaar kan jy ook by die buitelugkonsert vir Spoegwolf, Karen Zoid, Early B, Francois van Coke, Bongeziwe Mabandla, Dr Victor and The Rasta Rebels en Eet kreef! onder die sterre in die Toyota Jan Marais Park geniet.
Die Toyota-musiekfees bied ook ’n reeks konserte in die HMS Bloemhof-sentrum aan – ’n teater met uitstekende akoestiek en gemaklike sitplek. Dit sluit in Brel/Piaf (met Amanda Strydom en André Schwartz), Die Theuns Jordaan Liedjieboek (’n huldeblyk met Bobby van Jaarsveld, Tarryn Lamb, Mathys Roets, e.a.), die bekroonde Die poet, wie’s hy? (met Dean Balie), Al om Antjie (’n huldeblyk aan Antjie Krog met toonsettings deur Frazer Barry, Anton Goosen, Laurinda Hofmeyr, Luna Paige, Jolyn Phillips, Karen Zoid, e.a.) en Afrika-blues (met Louis Mhlanga, Sima Mashazi en Schalk Joubert).
Ook op die program is Elvis Blue, Loki en Margot Rothman, en Grensloos – ’n samespel op twee klaviere tussen Coenie de Villiers en André Schwartz.
Feesgangers kan ook uitsien na kosstalletjies en kontantkroeë by die meeste van die lokale. Eie spys en drank word nie toegelaat nie.
Kaartjies is aanlyn by Webtickets (www.webtickets.co.za) beskikbaar.
Daar is ’n Webtickets-verkooppunt in die Woordfeeskantoor in Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch. Kantoorure van 1 September 2022 is van Maandag tot Vrydag 09:00 tot 16:00, en Saterdae 09:00 tot 13:00. Tydens die fees is dié kantoor daagliks van 08:00 tot 18:00 oop.
Jy kan ook dag- en week-afslagpakkette vir onderskeidelik R50 en R150 elk koop.
Vir meer besonderhede en die volledige program, volg die fees op Facebook, Instagram of Twitter, of by woordfees.co.za.
Die Woordfees is ’n kontantlose fees. Betaal met enige debiet- of kredietkaart, of gebruik SnapScan.