Nomakhosazana Meth, minister van werkskepping het aangekondig dat vanjaar se minimumloon vanaf 1 Maart met R1,21 gaan styg.
Hiérdie styging is van toepassing op alle arbeiders wat nie deur die sektorale minimumloon gedek word nie, en sluit in huiswerkers en plaasarbeiders.
Die loonverhoging het met ongeveer 4,4% gestyg na R28,79 per uur in vergelyking met verlede jaar se R27,58.
Dit is hoër as die huidige inflasiekoers van 3% wat in Januarie deur Statistiek Suid-Afrika aangekondig is.
Denile Samuel, ’n arbeidsregte-koördineerder by Women On Farms, ’n organisasie sonder winsbejag wat hulself beywer met die regte van vroulike plaasarbeiders in die Wes- en Oos-Kaap, sê vanjaar se minimum loon verhoging “is ’n klap in die gesig”.
Samuel het verduidelik dat die nasionale minimumloon-kommissie wat jaarliks die minimumloon vasstel, vir Women On Farms se insae gevra het tydens ’n voorlegging in Julie 2023.
Tydens die voorlegging het 40 vroulike plaasarbeiders van onder meer die Drakenstein, Stellenbosch, Witzenberg en Breedevallei hul insae gelewer.
Samuel voel egter dat hul voorlegging op dowe ore geval het en dat die kommissie nie die swaar ekonomiese omstandighede van Suid-Afrikaners in ag geneem het voor die vasstelling van die nuwe minimum loon nie.
“Die gaping tussen dit wat die arbeiders verdien, en dit wat die produsente en plaaseienaars verdien, raak al hoe groter,” het Samuel gesê.
“Sommige vroue het aangemeld dat met elke loonverhoging hul ure verminder word, en dat die wat permanent aangestel was nou net seisoenaal is, terwyl die wat seisoenaal was, net nou en dan ingeroep word vir werk,” vertel Samuel.
Volgens ’n persverklaring van Labourwise, ’n aanlyn adviesdiens vir werkgewers in Suid-Afrika, stel die “minimumloon ’n nuwe basislyn oor alle sektore, met ’n paar uitsonderings”.
Die uitsonderings sluit in:
- Werkers in diens van uitgebreide openbare werke (R15,83 per uur); en
- Werkers met leerlingskapooreenkomste ingevolge die Wet op Vaardigheidsontwikkeling.
Daar was ook loonverhogings in ander sektore, wat insluit:
- Werknemers in die sektorale vasstelling 9 (SD9) of te wel die groot- en kleinhandelsektor se minimum loon sal verhoog word afhangende van die spesifieke beroepkategorie waarvan die laagste in lyn is met die minimum loon syfer van R28,79 per uur.
- Werknemers in die sektorale vasstelling 1 (SD1) of te wel die kontrakskoonmaaksektor sal ook verhoog met ’n minimum van R31,69 in stedelike gebiede en R28,79 in sekere landelike gebiede