Cilliers Marais (17) en Emil Duvenage (16) het die eerste naweek van Julie aan die Koës Pan-tydren in Namibië deelgeneem.


Twee jong adrenaliensoekers van Wellington het behoorlik stof opgeskop in Namibië.

Emil Duvenage (16) en Cilliers Marais (17), vriende en albei leerders van Hugenote Hoërskool, het op 5 en 6 Julie aan die Koës Pan-tydren deelgeneem. Die twee graad 11’s vertel dat dié tydren nie speletjies was nie. Uit die 30 deelnemers in die 250 cc-klas het Cilliers in die derde plek klaargemaak en Emil vierde.

Die tydren vind jaarliks in Koës, ’n dorpie in die suidwestelike deel van Namibië, plaas. Volgens die Namibiese Toerismeraad dien die geleentheid ook as finansiële hupstoot vir die dorp met mense van Windhoek, Swakopmund en die Noord- en Wes-Kaap wat elke jaar aan die tydren deelneem.

Die seuns het in Desember verlede jaar al elke naweek by die Zone 7-renpark by Kaapstad begin oefen vir die uitputtende Koës-ren.

Die twee lag saam oor die feit dat hulle dink die hoogtepunt van die tydren was toe hulle klaar was daarmee.

Die kompetisie duur twee dae. Die Wellingtonners vertel die Vrydag was uitgesit vir die lang tydren van 200 km en die Saterdag se gebeure is in drie verdeel: ’n kort tydren van 16 km, ’n versnelren en ’n gedeelte waarin deelnemers duine moet uitry.

Nadat Cilliers ’n bietjie gedink het, het hy erken sy gunstelingdeel was om teen 140 km/h op die pan te jaag en Emil bieg dat sy gunstelingdeel die omgewing was waarin die lang tydren gehou is. Dit is die paar se tweede Koës Pan-tydren en hulle het reeds hul volgende doelwitte gestel. Emil sê hy wil graag die Oranjemund Desert 300-tydren voltooi en Cilliers sê sy volgende kompetisie is ’n Zone 7-uitklopkompetisie.

Die vriende vertel hoe hulle as stokperdjie motorfiets begin ry het. Albei het begin toe hulle maar nege jaar oud was. Hulle stem saam dat hulle bevoorreg is om ouers te hê wat hulle ondersteun in die opwindende sport en sê hulle sal volgende jaar terugkeer om weer deel te neem.. Two learners from Huguenot High School participated in the Koës Pan Rally in Namibia on 5 and 6 July. Emil Duvenage (16) and Cilliers Marais (17), both in Grade 11, shared the story of their motorcycling hobby and the challenging desert competition.

You need to be Logged In to leave a comment.