David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys.

Gallo Images

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het in ’n verklaring gesê skole in die provinsie is reeds vol vir 2024.

Van 11 Desember af is plekke toegeken vir 120 778, of 99,43%, van die leerders van wie aansoeke vir gr. 1 en gr. 8 vir die 2024-skooljaar ontvang is. Plasing is aan die gang vir 688, of 0,56%, gr. 1- en gr. 8-leerders. Laat aansoeke kom steeds in, met 176 aansoeke wat net die afgelope drie weke ontvang is.

“Ons verstaan dat hierdie ’n stresvolle en angstige tydperk vir hierdie ouers is. As ’n departement vra ons ouers om saam met ons te werk aangesien ons probeer om hul kinders so gou as moontlik te akkommodeer. Ons ondersoek alle beskikbare opsies om ’n plek vir hierdie leerders vir die begin van die skooljaar te vind,” lui die verklaring.

Ons sal steeds nege nuwe skole bou om die leerders vir die 2024-skooljaar te akkommodeer, asook 496 klaskamers in gebiede waar ’n groot aanvraag vir plasing ontvang is.

Ten spyte van ’n knou van R716, 4 miljoen vir sy begroting, veg die departement hard om die aantal plekke wat by skole in die Wes-Kaap beskikbaar is, uit te brei.

“Ons sal steeds nege nuwe skole bou om die leerders vir die 2024-skooljaar te akkommodeer, asook 496 klaskamers in gebiede waar ’n groot aanvraag vir plasing ontvang is. Ons hersiene plan is daarop gemik om 608 bykomende klaskamers oor die provinsie heen te lewer, wat ten spyte van die infrastruktuur-begrotings­besnoeiing steeds meer as dubbel die gemiddelde getal is wat jaarliks voor 2022-’23 gebou is.”

Amptenare en skole werk hard onder uiterste druk om seker te maak dat hulle ’n plek vir elke kind kry.

“Ons laat geen steen onaangeroer om elke leerder te plaas nie, en ons sal voortgaan om plasing te finaliseer vir alle oorblywende leerders wie se ouers reeds aansoek gedoen het.”Ons het baie moeite gedoen om ouers aan te moedig om betyds tussen 13 Maart en 14 April 2023 aansoek te doen. Ons het webwerwe voorsien vir ouers om bygestaan te word as hulle nie aanlyn kan aansoek doen nie. Ons distrikskantore aanvaar instap-aansoeke sedert die aanlyn aansoeke gesluit het.”

Ten spyte hiervan weet die departement dat duisende leerders volgende jaar in die eerste kwartaal sal opdaag en plasing benodig.

“Ons weet nie waar hulle plasing gaan soek nie, of wat hul grade, tale, ouderdomme of vakkeuses sal wees nie. Dit maak die beplanning van ons hulpbrontoewysing vir hierdie uiters laat aansoekers baie moeilik, en hul ouers sal ’n geruime tyd moet wag voordat hul kind geplaas word. Ons sal werk om elke leerder vir wie ’n aansoek ontvang word, te plaas, maar ons wil dit duidelik maak dat Wes-Kaapse skole vol is, en daarom doen ons ’n beroep om geduld van ouers wat nuwe aansoeke indien, aangesien kinders dalk nie voor die einde van die eerste kwartaal geplaas sal word nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article