Die beplande taxi staking Maandag en Dinsdag in die Wes-Kaap sal voortgaan het die SA Nasionale Taxiraad (Santaco) bevestig.
Taxi operateurs gaan staak oor ‘n paar kwessies wat insluit die skut van taxis elke dag, swaar verkeersboetes en ook die Blue Dot-taxidienste wat amptelik teen einde November beëindig sal word.
Blue Dot is ’n aansporingsprogram, wat deur die Wes-Kaapse regering in Mei verlede jaar gestig is, en is daarop gemik om taxibestuurders te beloon vir verbeterde bestuursgedrag en hoër diensgehalte, terwyl die vermindering van onwettige bedrywighede en konflik aangemoedig word. Meer as 1 000 taxi’s reg oor die provinsie vorm deel van die projek.
Die beëindiging van die program kom nadat die Wes-Kaapse regering aangekondig het dat hulle nie geld het om die dienste verder te finansier nie. Die nasionale departement van vervoer sê dat hulle ongelukkig ook nie kan help met finansiering nie.
Die staking is ‘n groot bekommernis vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) omdat leerders tans besig is met eksamens. Hulle is veral bekommerd oor die matrikulante wat eksamen ook skryf.
Die LUR vir onderwys David Maynier het Sondag gevra of die staking nie uitgestel kan word nie. “Ons is diep teleurgesteld oor Santaco Wes-Kaap se besluit om stakings te onderneem, aangesien dit ‘n ernstige impak sal hê op ons leerders wat einde-van-jaar eksamen skryf, en veral ons matriekeksamen. Twee hoë-inskrywingsvakke – Lewenswetenskappe en Geografie – word Maandag en Dinsdag geskryf, saam met ‘n aantal kleiner vakke. 32 868 kandidate moet Maandag eksamen skryf, en 27 154 Dinsdag.”
Maynier voeg by dat hulle planne in plek gestel het by eksamen sentrums om matrieks by te staan. Die WKOD het ook vir alle kandidate ‘n SMS uitgestuur en aangemoedig om alternatiewe vervoer reëlings vooraf te tref.
“Boonop het ons distrikte gebeurlikheidsplanne gemaak vir matriekkandidate wat ondanks hul beste pogings nie hul aangewese eksamensentrum kan bereik nie. As dit gebeur, moedig ons hulle aan om kalm te bly en na hul naaste eksamensentrum te gaan waar hulle begelei sal word om te verseker dat hulle die eksamen kan skryf. Ons het planne in plek om te verseker dat daar genoeg eksamenvraestelle, skryfbehoeftes en opsieners by alle lokale sal wees. Die sleutel tot die sukses van hierdie maatreëls is dat kandidate en hul ouers nie paniekerig raak nie. Die departement en ons skole doen alles wat ons kan om te verseker dat die eksamens glad verloop.”





