Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het gerugte ontken dat ‘n leerder Vrydag (23 Januarie) op die perseel van Klapmuts Primêr doodgeskok het.
Die skielike dood van die agtjarige Matthew Cheswin Baartman het skokgolwe deur die Klapmuts-gemeenskap gestuur toe die seuntjie na bewering met ‘n lewendige elektriese kragkabel in kontak gekom het, wat tot sy dood gelei het.
Kerry Mauchline, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, het vandeesweek aan Paarl Post gesê die gerugte wat die ronde doen dat Matthew op die skoolterrein doodgeskok is, is ongegrond.
“Ons het spekulasie op sosiale media opgemerk dat ‘n elektrisiteitsverbinding [by die dood van Matthew] betrokke was. Die skool het leerders ná die voorval van die skool ontslaan en ‘n assesseringspan, insluitend ‘n elektriese kontrakteur, was Vrydagmiddag op die perseel om die bewering van lewendige drade of elektriese verbindings te ondersoek. Geen bewyse kon gevind word om die bewering te staaf nie en die skool het Maandag met volle bywoning heropen.”
LEES OOK: Skok ná skielike dood van 8-jarige by skool in Klapmuts
Mauchline het intussen ‘n beroep gedoen op die publiek om nie onbevestigde inligting en gerugte te versprei nie.
“Die polisie is besig met ‘n ondersoek wat die oorsaak van dood sal insluit en ons sal hulle ons volle ondersteuning bied.”
Mauchline het ook namens die WKOD hul medelye met Matthew se familie en die skool gedeel. Sy sê die departement se distrikspan verleen die nodige ondersteuning aan die skool.





