Die winter het die afgelope naweek sy tande behoorlik gewys met ysige reënweer wat selfs sneeu op die hoogliggende berge laat val het. Altesaam 75 mm reën is van Vrydagnag toe dit begin reën het, tot Sondagaand in die Paarl gemeet, en nog 65 in Wellington. Geen ernstige skade is in die Drakenstein-vallei aangemeld nie. Tans is die vlakke van die Bergrivier-opgaardamme op 79,97% in vergelyking met verlede jaar se 69,74%. Die Bergrivierdam is 101,90% vol en loop oor, teenoor 69,25% vir dieselfde tydperk in 2022. Die watervlak van plaaslike damme is as volg: Wemmershoekdam: 83,93% (49,14%), Voëlvleidam: 45,88% (56,35%) en Theewaterskloofdam: 63,80% (66,79%). Hierdie pragtige reënboog is die afgelope naweek in Wellington tussen reënbuie deur vasgevang. Foto: Neil Büchner