Winnie Rustse laasteboek word bekend gestel

Katryn, die boek wat Winnie Rust voltooi het kort voor sy op 11 Mei vanjaar wreed in haar huis op Wellington vermoor is, word Dinsdag 29 November, amptelik by die Breytenbach-sentrum op Wellington bekend gestel.


Katryn, die boek wat Winnie Rust voltooi het kort voor sy op 11 Mei vanjaar wreed in haar huis op Wellington vermoor is, word Dinsdag 29 November, amptelik by die Breytenbach-sentrum op Wellington bekend gestel.

Volgens die uitgewer, Theresa Papenfüs van Litera Publikasies, speel die verhaal van Katryn in die 1860’s op Wellington af. Dit was woelige tye op Wellington.

Die nuwe predikant, Andrew Murray, het pas met sy bediening op die dorp begin, die eerste stoomlokomotief het op Wellington aangekom, die pad na die goudvelde in die noorde is oopgestel, die Masonic-hotel op die dorp het floreer en geestelike herlewing het ’n vlaag van vroomheid na die Boland gebring.

Katryn is nie die eerste van Winnie se uitgebreide skryfwerk wat in en om Wellington afspeel nie.

Haar bekende boek, Martha, ’n verhaal oor Martha Solomons, was ook ’n bekende Wellington-verhaal. Dié boek het in 2005 die kortlys vir die Jan Rabie-Rapport-prys gehaal.

Rust was ’n vrugbare skrywer en verskeie dagstukkies, rubrieke, kortverhale en ander romans het uit haar pen verskyn. Haar skryfwerk is in letterkundige kringe hoog aangeslaan en Barend J. Toerien het by geleentheid gesê: “Winnie Rust het ’n buitengewone vertelvermoë; die onmiddellike aspekte van die verteller, die spontane, helder taal.”

Dit is interessant wat Winnie kort voor haar eie wrede dood oor misdaad en misdadigers in hierdie laaste boek van haar sê: “. . . ons moet die sondaar nie veroordeel nie, maar die sonde. Ons moet deernis hê vir sy gevangenskap van woede en van verslawing.”

Katryn, Winnie Rust se laaste roman, sal eersdaags teen R230 landwyd by boekwinkels te koop wees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.