Die dryfkrag agter Saron se winkelsentrum is Derick Brown (sekretaris van die plaaslike DA-tak), Clinton Julius (ontwikkelaar), Stephen Korabie (uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit), Russel Herman (argitek), Hannes Smit (DA-raadslid vir Wyk 30) en Stephen Joachims (DA-takvoorsitter).Foto:


Dit was sy ma se laaste wens wat ’n man aangespoor het om sy droom te verwesenlik.

Clinton Julius (46) van Kuilsrivier, uitvoerende hoof van JSRR Trading (Pty) Ltd, het sewe jaar gelede besluit om ’n winkelsentrum in Saron te bou.

Hy vertel: “My ma, wat vier jaar gelede oorlede is, het jare gelede uit Saron verhuis, maar dié dorp het altyd deel van haar lewe gebly.

“Dit was my ma se laaste wens dat ek ontwikkeling in die dorp moet aanwakker en ’n winkelsentrum daar oprig.”

Julius sê daar was baie uitdagings, maar gelukkig was daar mense soos Hannes Smit (DA-raadslid vir Wyk 30 by die Drakenstein-munisipaliteit), Stephen Joachims (DA-takvoorsitter) en baie ander wat hom gehelp het om die projek ’n werklikheid te maak.

Dié eertydse sendingstasie, wat nou dorpstatus het, sal spog met ’n winkelsentrum wat onder meer ’n supermark en gimnasium sal insluit. Daar sal ook voorsiening gemaak word vir ’n plek waar leerders toegang tot die internet het om hulle met skoolprojekte te help.

Smit sê die winkelsentrum is ’n groot noodsaaklikheid vir die dorp.

Hy sê: “Ons moes baie struikelblokke oorbrug en deesdae behoort feitlik al die winkels in die dorp aan buitelanders wat ons mense uitbuit met hoë pryse en produkte van baie swak gehalte.

“Daar is meer as vyftig winkels (insluitend huiswinkels) in die dorp wat slegs drie van die dorp se inwoners in hul diens het. “Dit is ’n bewys dat hulle feitlik niks terugploeg in die gemeenskap nie.

“Die sentrum hou baie voordele in vir ons mense, asook vir seisoenwerkers en plaasbewoners in die omgewing. Die projek gaan baie werksgeleenthede skep en groot verligting bring vir mense wat sukkel om ’n bestaan te maak.”

Stephen Korabie, Drakenstein-munisipaliteit se nuwe uitvoerende burgemeester, het sy volle gewig agter die projek ingegooi.

Hy het Vrydagaand die projek aan die gemeenskap bekendgestel.

Hy sê: “As uitvoerende burgemeester is dit my plig om toe te sien dat geleenthede geskep word vir ontwikkeling en om dit moontlik te maak vir inwoners om daardie geleenthede te kan benut tot voordeel van hul gemeenskap.

“Die nuwe ontwikkeling wat gaan plaasvind skep die ideale geleentheid om werk te skep vir baie van Saron se mense, nie net deur die oprigting van die sentrum nie, maar ook op die lange duur wanneer mense aangestel gaan word om in die sentrum te werk.

“Ek is opgewonde oor die feit dat die gemeenskap van Saron nie meer so ver hoef te reis om hul inkopies te doen nie, wat baie voordele en besparing vir die inwoners inhou.”

Julius beplan om hom in Saron te vestig omdat hy nog planne het wat in die toekoms groot vooruitgang vir die dorp sal beteken.

Hy het ook die versekering gegee dat slegs plaaslike mense aan die projek gaan werk, behalwe vir mense met spesiale vaardighede soos ingenieurs wat nie in die dorp beskikbaar is nie.

Bouwerk aan die projek sal aan die einde van September ’n aanvang neem en hopelik binne 18 maande voltooi wees.

You need to be Logged In to leave a comment.