“Ons verwelkom die aankondigings wat president Cyril Ramaphosa gisteraand gemaak het, wat sal toelaat dat meer sektore van ons ekonomie weer oopgaan en dat mense wat sedert die eerste implementering van die grendeltyd nog nie kon werk nie, weer ’n salaris sal verdien.”
Só sê die Wes-Kaap premier Alan Winde ná Ramaphosa Woensdagaand aangekondig het dat verskeie besighede wat ingevolge die grendteltyd steeds gesluit is binnekort sou oopmaak.
Dit sluit in die skoonheidsbedryf, vermaklikheidsgeriewe soos flieks, teaters en casino’s, asook hotelle en ander vorme van verblyf – met die uitsondering van AirBnB. Nie-kontaksportoorte, soos tennis, gholf, krieket en ander kan weer hervat terwyl kontaksport – slegs vir oefeningsdoeleindes sal terugkeer.
Dit is nog nie duidelik wanneer en tot watter mate die sektore toegelaat word om weer sake te doen nie.
“Die grendeltyd, wat eers in Maart geïmplementeer is, het ‘n ernstige uitwerking op ons ekonomie gehad,” sê Winde. “Dit het gelei tot ‘n toenemende behoefte aan humanitêre ondersteuning, omdat mense nie hul families kon voed nie omdat hulle nie ‘n salaris verdien het nie, of hul werk verloor het.”
Winde maan dat die heropening van besighede versigtig en met die grootste aandag aan higiëne- en veiligheidstandaarde gedoen moet word, en nie gesien word as ‘n geleentheid om minder erns oor die virus te hê nie.
Geslagsgeweld
Die premier het ook steun aan die president verleen in die stryd teen geslagsgeweld.
Dit volg ná die moord van Tshegofatso Pule, wat agt maande swanger was, die land geruk het. Pule, een van talle slagoffers van geslagsgeweld, is gevind aan ‘n boom in Gauteng. Sy is verskeie kere met ‘n mes gesteek.
Ramaphosa het hierdie sinnelose geweld as ‘n “oorlog” beskryf wat gewelddadige mans teenoor vroue en kinders loods.
Hy sê mishandeling het dramaties toegeneem sedert vlak 3 van inperking op 1 Junie van stapel gestuur is.
“Ons verwelkom die feit dat daar in baie van hierdie gevalle mense in hegtenis geneem is, maar navorsing van oor die hele wêreld het getoon dat die grootste afskrikmiddel vir misdaad die sekerheid van straf is,” voer Winde aan.
Volgens Winde lê die verantwoordelikheid nou op diegene in die regstelsel om seker te maak dat die ondersoeke afgehandel is, bewyse bewaar word, dossiere voltooi is en diegene wat skuldig is, gestraf word.
President Cyril Ramaphosa het ook ‘n beroep op LP’s gedoen om wetgewing oor geslagsgeweld te bespoedig.
Sy administrasie het egter nie sulke wetsontwerpe voor die parlement gebring nie. Speaker Thandi Modise het dus besluit om direk by die ministers op te volg.
- Ekstra bron: News24


