Die brand in Bainskloofpas soos gesien van Wellington. Foto: Lolah Photography


Tans hang ’n digte rookwolk oor Wellington nadat ’n brand laat Dinsdagmiddag (18 Februarie) op Groenberg ontstaan het, waarna dit na Bainskloof versprei en deur die nag buite beheer gebrand het, grootliks as gevolg van sterk wind.

Teen druktyd is drie strukture, waaronder een huis en twee skure, afgebrand. Twee kothuise teen die hange van Groenberg is ook ontruim, maar het nie afgebrand nie.

Volgens Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), het die brand Dinsdag op die Oaklands-landgoed teen die hange van Groenberg ontstaan.

“Stormsterk wind en hoë brandstoflading wat deur bloekomplantasies en ander plantegroei verskaf is, het veroorsaak dat die brand vinnig versprei [het], het Otto bygevoeg.

Helikopters is op bystand, maar kon weens die sterk wind nog nie vlieg nie.

Sewe KWDM-brandbestrydingsvoertuie, asook die grondspanne NCC Wildfires en CapeNature, beveg tans die brand wat “in die rigting van Slangrivier en die Bo-Hermon-pad afbeweeg het,” sê Otto.

Alle grondeienaars in die gebied is gevra om toegang tot hul plase vir nooddienste oop te stel.

CapeNature het ook ’n voorval-bevelspos in Antoniesvlei opgestel.

Die Wynland Brandbesker­mingsvereniging is op die toneel om brandbestryding te koördineer.

Skade aan gewasse is aangemeld, maar die omvang kan nog nie bepaal word nie.

Teen druktyd was die brand nog nie onder beheer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.