Heinz en Aletté-Johanni Winckler se besoek verlede week aan Breytenbach Sentrum in Wellington is met omstredenheid verwelkom.
Die egpaar het hul nuut gepubliseerde boeke, Lewensgids vir mans, deur Heinz, en Lewensgids vir vroue, deur Aletté-Johanni geskryf, bemark. Die boeke gee raad gegrond op Bybelse beginsels aan mans en vroue.
Hul verwelkoming by Breytenbach Sentrum, die grootwordhuis van wyle Breyten Breytenbach, is deur sommige inwoners gekritiseer – veral Heinz se teenwoordigheid weens sy betrokkenheid by gesprekke oor seksuele oriëntasie.
Heinz het in 2021 sy stem dik gemaak oor ’n transgender minderjarige by die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes waar sy kinders skoolgegaan het.
Heinz het ’n groep ouers verteenwoordig wat kapsie gemaak het teen die skool se besluit om ’n transgender minderjarige, wat as ’n meisie identifiseer, te akkommodeer.
Nadat die kwessie in Oktober 2021 die nuus gehaal het, is ’n aanlyn petisie teen Heinz begin, wat deur meer as 2 000 onderteken is.
Die petisie wou kapsie maak teen Heinz se beweerde haatspraak met betrekking tot die voorval by die skool asook teenoor die breër LGBTQI+-gemeenskap.
Volgens Robert Hamlin, medestigter van die menseregteorganisasie vir transmense, Gender DynamiX, asook ’n visuele kunstenaar, is Heinz en Aletté-Johanni Winckler “gekant teen die regte van transkinders”.
“Soms, onderweg na begrip, sukkel ons as mense en leiers om die breedte van menseregte te verstaan, en dus ook die eintlike doel van vryheid van spraak. Dikwels struikel ons oor die grense waarbinne sogenaamde kunstenaars toegelaat word om vryheid van spraak te beoefen, maar terselfdertyd binne die grense van die Grondwet te bly,” het Hamlin in ’n Facebook-plasing op 19 November geskryf.
Hamlin vra in sy plasing of Breyten Breytenbach die regte van transkinders as minder geag het. “Breytenbach was ’n polities gedrewe skrywer en kunstenaar. Sou hy sy ouerhuis as ’n platform gegee het aan mense wat luidkeels betrokke was by die skending van ’n kind se menseregte?” vra Hamlin.
Verskeie ander kommentare is op Breytenbach Sentrum se Facebookblad gedeel nadat die nuus oor die Wincklers se besoek bekend gemaak is.
Volgens Henk Serfontein is dit “skokkend dat Breytenbach Sentrum [hul]self assosieer met die Wincklers”.
“Volgens [hul] webblad staan daar in Breyten se woorde geskryf dat dit ’n plek van uitdagende skepping en ware transformasie moet wees. Die Wincklers se idees is behoudend en konserwatief en ondermyn transformasie.”
Volgens ’n verklaring deur Louis Duvenage, voorsitter van Breytenbach Sentrum se direksie, is daar ’n “interne protokol waarvolgens besluit word op spesifieke projekte of inisiatiewe, wat dan verder deur projekleiers gereël word, byvoorbeeld met die insette van uitgewers”.
“Die Sentrum steun daarin op die beginsels van die Grondwet en die handves van menseregte waarin die regte verskans word van alle mense in ons land en waarvolgens demokratiese waardes, menswaardigheid en vryheid erken word. In [die sentrum se] visie en missie erken ons vryheid van spraak. Dit is vir ons belangrik om ’n ruimte vir almal te wees. Daarom is die sentrum teen diskriminasie, en ten gunste van oop gesprekke.
“Deur ’n platform aan ’n kunstenaar of outeur se werk te gee, beteken nie dat die sentrum dit onderskryf nie. Die ope gesprekvoering wat in respek deel is van so ’n geleentheid, gee deelnemers kans om van verskillende wêreldbeskouinge te hoor,” lui die verklaring.
Die Breytenbach Sentrum beplan ’n gesprek oor “vryheid van spraak binne die konteks van gender en seksualiteit” vroeg in 2025, met nog inligting wat sal volg.
Na aanleiding van Rapport se artikel op 24 November oor die kwessie, het Heinz in reaksie hierop ’n plasing op sy Instagram-profiel gemaak wat ’n nuwe beweging aankondig.
Hier verkoop hy T-hemde met die hutsmerk #behoudend op. “Behou die goeie! As jy soos ons glo dat die Bybel die Woord van God is en glo ons moet gehoorsaam daaraan wees, is jy ook behoudend, of konserwatief in die oë van sommige woke liberale. Ons sê daarom luidkeels ‘Ja, ons is behoudend’ en daarom kan ons die T-hemp met oortuiging dra,” lui die plasing.