Die sogenaamde Wellington- reeksmoordenaar en -verkragter Johan Williams (52) het die afgelope Maandag (15 April) in die Kaapse hooggeregshof voorgekom, waar sy vonnisoplegging nogmaals uitgestel is.
Volgens ’n anonieme bron verbonde aan die Wellington-polisiekantoor moes die vonnisoplegging begin het, maar weens Regshulp SA, wat Williams se aansoek om ’n nuwe prokureur verwerp het, is die saak weer uitgestel.
Die volgende hofdatum is geskeduleer vir 6 Mei, volgens die bron.
Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het dié inligting bevestig.
Williams is in Julie 2018 deur die Wellington-polisie op drie aanklagte van moord teen Chantell Matthysen (21), Maria Isaacs (35) en Natalie Jonkers (35) in hegtenis geneem.
LEES OOK: W’tonse reeksmoordenaar se saak weer eens uitgestel
Tans is die aanklagte teen hom drie aanklagte van moord asook “vier verkragtings, drie aanklagte van poging tot verkragting, ses aanklagte van ontvoering, huisbraak, aanranding met die doel om ernstig te beseer, brandstigting en dat hy versuim het om gehoor te gee aan ’n beskermingsbevel,” berig Netwerk24.
Williams het kwesbare vroue geteiken wat werk of finansiële bystand gesoek het. Hy het dan hulp aan hulle beloof en stelselmatig hul guns gewen, waarna hy hulle ontvoer en in sommige gevalle verkrag en vermoor het.
Williams het Jonkers in 2012 ontvoer en vermoor en haar lyk sewe maande later op die Helpmekaar-plaas langs die R45 buite Wellington aan die Wellington-polisie uitgewys.
Hy het Matthysen, van Kuilsrivier, in 2018 ontvoer en vermoor nadat hy haar werk belowe het. Haar lyk is langs die Bergrivier in Wellington gevind.
“Hy [Williams] het haar [Matthysen] eers bevriend en selfs ’n Kersete saam met haar en haar familie geniet,” luidens die berig van Netwerk24.
Williams het Isaacs, sy derde slagoffer, ook in 2018 ontvoer en vermoor nadat hy haar ’n werksgeleentheid by ’n vervoermaatskappy in Touwsrivier beloof het.
Haar lyk is ’n klipgooi van dié van Matthysen gevind.
Volgens die anonieme bron verbonde aan die Wellington-polisiekantoor “rek hy [Williams] die [hof]proses uit omdat hy nie gevonnis wil word nie”.
“Hy is bang vir die vonnis[oplegging],” het die bron aan Paarl Post gesê.