Amanda AdamsFoto: Chantélle Hartebeest


Amanda Adams is die eerste vrou wat in die 57-jarige bestaan van William Lloyd Primêr as hoof aangestel is.

Sy het die juk van haar nuwe pos op 1 Januarie opgeneem.

Adams, wat reeds 29 jaar in die onderwys agter die rug het, sê sy sien baie daarna uit om verder tot die skool se etos van uitnemendheid by te dra.

Sy sê sy het groot waardering vir die skool se tradisies en namate die tye verander, sien sy daarna uit om e-leer en gemengde leer in dié skool te bevorder.

“Die opvoeder se rol, interaksie en bespreking in die klaskamer sal nooit vervang kan word nie, maar ons moet aanpas by die behoeftes van die leerders van vandag. Dus kan ons as opvoeders nie meer onderrig soos 20 jaar gelede nie; daarom moet e-leer en gemengde leer by William Lloyd Primêr aandag geniet. Die holistiese opvoeding van leerders is vir my belangrik – dat leerders op akademiese, sport en kulturele gebied opgevoed word, maar hul psige – sosiale welstand – ook in ag geneem en goeie morele waardes by hulle gekweek word.”

Die 50-jarige nuwe skoolhoof glo spanwerk en die interafhanklike verhouding tussen opvoeders en leerders is van kardinale belang om suksesvol te wees. Sy het in 1993 begin skoolhou en onderrig gegee by Laerskool Paulus Joubert, Orleansvale Primêr, Daljosafat Primêr, St. Albans Primêr en Nieuwe Drift Primêr.

“Ek het in 1998 as gr. 1-opvoeder in die Engels-medium klas by die William Lloyd-familie aangesluit. Ek het tot die skool se goeie reputasie bygedra deurdat my gr. 3-klas in die Kaapse Wynland-distrik pryse vir uitnemendheid in wiskunde sowel as huistaal behaal het.”

Adams is die jongste van vyf en is die dogter van George (Jossie) en Grace Roux. Haar pa was ’n bouvoorman en haar ma ’n huisvrou. Haar pa is dood toe sy 10 jaar oud was.

“My pa het die aand ná werk ’n massiewe hartaanval gehad en is dadelik dood terwyl ek en hy in een vertrek was. Ons was besig om oor my skooldag te gesels. Hy’t net gevra dat hy sy dankgebed vir sy ete wil sê voordat ons verder praat, terwyl ek my tuiswerk doen. Toe ek opkyk om te sien of hy klaar gebid het sodat ons kon verder gesels, was hy reeds dood. Dit was ’n baie traumatiese ervaring.”

Die onverwagse ommeswaai in hul lewe het haar ma gedwing om van ’n welsyntoelae afhanklik te wees. Ten spyte van die omstandighede het Adams haar skoolloopbaan aan New Orleans Sekondêr voltooi. Sy het daarna ’n hoëronderwysdiploma aan die Athlone-onderwyskollege asook ’n honneursgraad verwerf.

Volgens Adams is sy die enigste onderwyser in hul familie, maar in die Roux-familie is daar baie opvoeders. “Ek kom uit ’n ryk agtergrond van onderwysers!”

Haar man, Grant, is ’n onderwyser by Charleston Hill Sekondêr en hulle is die trotse ouers van ’n seun en twee dogters – Shayne (27), Tracy (22) en Abby (17).

Onderwysers het Maandag teruggekeer skool toe om voorbereiding te doen voordat die skool gister vir leerders geopen het. Onderwysers van William Lloyd Primêr het Adams verras en gelukgewens met haar nuwe pos by die skool.

Alhoewel dit ’n groot taak is met baie uitdagings wat voorlê, is Adams baie opgewonde. Sy sê sy glo sy sal deur die leiding van God suksesvol in haar pos wees.

“Ek is dankbaar vir hierdie geleentheid om tot die ontwikkeling van die leerders van ons skool te kan bydra, om positiewe bande met ons ouers te smee en om die ander opvoeders by die skool te motiveer om vir elke leerder die beste onderrig wat hulle kan, in elke klaskamer van William Lloyd Primêr te gee.”

  • In the 57 years’ existence of William Lloyd Primary, Amanda Adams is the first woman to be appointed as principal at the school.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article