Monitor die Drakenstein-munisipaliteit ooit die vloei van verkeer in die Paarl-gebied? Ek twyfel sterk.

As pendelaar raak dit ’n nagmerrie om Hoofstraat te gebruik. Die verkeer staan byvoorbeeld tussen veral 07:00 en 08:00 omtrent stil van nog voor Zomerlust Spar tot by Brugstraat en dan weer Boulevard se kant toe.

’n Groot oponthoud hier is die drie-rigting-stop by Brugstraat. Sou ’n verkeerslig hier weens die druk op ons paaie nie die verkeer beter laat vloei nie?

Só verkeerslig sal ook deurgaans motoriste stuit wat deur die dag en nag nie die stopstraat eerbiedig nie en – sonder om vir ander voertuie te kyk – net oorry.

Dan ook by die Boulevard-afdraai verder, sou ’n linksdraai-pyltjie ook help met verkeersvloei vir die tydperk dat die lig groen is vir motoriste in Boulevard om in Hoofstraat in te draai.

Maar ons kry in die geheel die gevoel dat die munisipaliteit nie hierdie situasies monitor nie – ook nie hul verkeersligte nie.

By die Markstraat- en Boulevard /Lady Grey-kruising werk dit regsdraai-pyltjies ook maar min. Ons dorp bars uit sy nate, maar prosedures kan ingestel word om ons verkeersvloei effe te verlig – maar is daar werklikwaar ’n WIL van bo af om dit te doen?


G. de Lange,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.