Wiid vereer vir musiekbydrae

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand 5 Mei die Andrew Murray-FAK-toekenning aan Annalise Wiid oorhandig vir haar bydrae tot die Christelike musiekskat.


Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand 5 Mei die Andrew Murray-FAK-toekenning aan Annalise Wiid oorhandig vir haar bydrae tot die Christelike musiekskat.

Die toekenning is tydens die jaarlikse Andrew Murray-prysfondsgeleentheid op Wellington oorhandig.

Wiid is van woorde en wysies aanmekaar geweef. Sy skryf stories, liedjies en rubrieke wat vertel van God en die lewe en sy reis sing-sing deur die wêreld om dit met gehore te deel.

Sedert 1993 produseer sy ’n klompie solo-albums onder meer Kaalvoet, Naglied, Ons, Blou kitaar, Nkosi is hier, Nog, Lig uit lig – almal met haar eie musiek en meesal haar eie lirieke ook. Musikante soos Jannie du Toit, Christa Steyn, Matthys Mareen, Johan Heystek het al saam met Wiid aan produksies gewerk.

Abjater is ’n kuierkat, Dis weer daai kat!, My eie wysie en Skewe snytjies brood is boeke wat uit Wiid se pen kom, maar sy is ook medeskrywer van verskeie ander publikasies.

Die Andrew Murray-toekenning bied erkenning aan rolspelers wat die Christelike leefwêreld bevorder met boeke, musiek, lektuur en teologiese publikasies. Tydens die herlewingsdienste van 1860, met dr. Andrew Murray aan die spits, verskyn daar ’n liederbundel Die Kinderharp. Dit was die voorloper van die eerste Hallelujaboek wat in 1903 uitgegee is deur ds. Charles Murray (jonger broer van dr. Andrew) en in daardie stadium nog met Nederlandse teks. Amper 30 jaar later verskyn die Nuwe Halleluja in 1931 deur ds. AC Murray, nou in gevestigde Afrikaans.

Met die toekenning wat aan Annalise oorhandig is, wil die FAK nie net erkenning gee aan die Murray-familie se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaanse Christelike musiek sedert 1860 nie, maar ook aan die rol wat kerkmusici en kunstenaars, soos Wiid, speel om op dié trotse tradisie voort te bou.

Die toekenning is deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, aan Wiid oorhandig.

Wiid vertel opgewonde: “Dit is ’n ontsaglike groot eer om dié toekenning te ontvang. Die prys ontvang ek nie alleen nie, my talent het te doen met woorde en wysies, maar my gawe is die mense rondom my. Ek dra die prys op aan my ouers, vriende, medekunstenaars, gehore en die mense daarbuite.”

Ander pryse wat tydens die geleentheid oorhandig is, sluit in:

  • Die Andrew Murray-prys vir Afrikaanse teologiese boeke: Coenie Burger en Andries Cilliers
  • Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir algemeen-Christelike en teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika: Yolande Korkie
  • Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van Suid-Afrika: Lauren Jacobs
  • Andrew Murray-Desmond Tutu-toekenning: Pieter Fourie
  • Erkenning vir bydrae tot Afrikaanse Christelike lektuur: Johan Smit en Winnie Rust

Dit is ook vanjaar 100 jaar gelede dat Andrew Murray op Wellington oorlede is, en die oorhandiging van die pryse is deel van die herdenking van Murray se blywende geestelike nalatenskap.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.