Ses slimkoppe uit die Drakenstein het die afgelope naweek aan die Blitsbrein Junior-kompetisie-eindstryd deelgeneem.
Die leerders is Elena Duvenage (gr. 9) van Hugenote Hoërskool; Miné Kingsley (gr. 9) en Jeanne le Roux (gr. 11) van Hoër Meisieskool Paarl; en Samuel Botha (gr. 11), Jan-Hendrik du Toit (gr. 11) en Kenneth Janson (gr. 11) van Hoër Jongenskool Paarl.
Altesaam 60 finaliste van oor die land heen het aan die algemenekenniskompetisie, wat deur Netwerk24 in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad aangebied word, deelgeneem.
“Die top-60 het die eindronde via Zoom voltooi. Dit was wonderlik om al 60 finaliste deur middel van hierdie virtuele platform sien deelneem. Elkeen van die finaliste kan uiters trots wees op hul puik prestasie in die kompetisie,” sê Kayla Alexander, hoof van gehoorontwikkeling by Netwerk24.
Sy sê die wenners van die kompetisie is nog nie bekend gemaak nie, omdat die antwoordstelle nog deur ’n ouditproses gaan. Die wenners sal binnekort eerste op hul platform aangekondig word.. Hou www.netwerk24.com se MySkool-afdeling dop vir die jongste nuus oor die Blitsbrein Junior-kompetisie.




