Wian Venter, ’n 15-jarige sportman van Hoër Jongenskool Paarl, het met sy kwalifikasie vir die SA Presidentspan die hoogtes van internasionale sport betree.
Hy sal Suid-Afrika by die WAKO-Wêreldskopboks-jeugkampioenskap verteenwoordig. Dié toernooi vind van 23 Augustus tot 1 September 2024 in Boedapest, Hongarye, plaas.
Wian se pad na sukses het reeds op die jong ouderdom van vier en ’n half jaar begin toe hy Muay Thai-boks onder die leiding van Wesley Wilmans in Pretoria begin oefen het. Mettertyd het hy oorgeskakel na skopboks. In 2017, ná sy gesin se verhuising na die Wes-Kaap, het hy sy opleiding voortgesit onder Sensei Gee Bleeker van Plettenbergbaai. Sy talent het gou geblyk toe hy in 2018 die Eden-span gehaal het en by die SA kampioenskap as SA kampioen in sy afdeling gekroon is. Hierdie prestasie het hom in staat gestel om vir die Wêreldkampioenskap te kwalifiseer, alhoewel hy nie die geleentheid kon bywoon nie.
Wian het jaar ná jaar sy verbintenis aan die sport bevestig deur elke jaar, met die uitsondering van 2021 as gevolg van Covid, die Eden-span te haal en SWD-klere te verwerf.
In 2023 het hy as lid van die WP-span aan die SA kampioenskap deelgeneem, wat sy sportloopbaan verder versterk het.
In 2024 het Wian by die Titans-MMA-Klub in die Paarl aangesluit, waar hy tans onder die deskundige leiding van sensei Riaan Pietersen oefen. Onder Pietersen se begeleiding het hy sy plek in die Kaapse Wynland-span verseker en in April 2024 aan die SA kampioenskap in Potchefstroom as ’n lid van die WP-span deelgeneem.
Hierdie prestasie het gelei tot sy insluiting in die SA Presidentspan, ’n beduidende mylpaal in sy jong loopbaan.
Wian se reis na die WAKO- Wêreldskopboks-jeugkampioenskap dien as ’n inspirerende voorbeeld van deursettingsvermoë, toewyding en die strewe na uitnemendheid.
Die hele Paarl-gemeenskap, saam met sy ondersteuners, wens hom alle sukses toe in hierdie opwindende internasionale uitdaging en avontuur.