mobiliteit
Die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement het ’n ernstige waarskuwing aan motoriste oor dronkbestuur gerig. Foto: Verskaf

Die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement het ’n ernstige waarskuwing aan motoriste gerig nadat ’n skokkende 24 mense weens bestuur onder die invloed van alkohol binne net een week in hegtenis geneem is.

Tussen 17 en 23 November 2025 het die provinsiale verkeersdiens 168 geïntegreerde padblokkades, voertuiginspeksies en spoedbeheer-optredes dwarsoor die provinsie uitgevoer, waar ongeveer 30 000 voertuie voorgekeer en nagegaan is, wat tot meer as 9 000 boetes vir uiteenlopende oortredings rakende bestuurder- en voertuiggeskiktheid gelei het.

Beamptes het ook 200 spoedoortredings gedurende hierdie tydperk aangemeld, luidens ‘n verklaring deur die departement van mobilitiet.

Altesaam 46 mense is vir die volgende beweerde oortredings in hegtenis geneem:

  • 24 vir bestuur onder die invloed van alkohol;
  • Drie vir roekelose en nalatige bestuur;
  • Ses vir voertuie wat met te veel goedere gelaai is;
  • Ses vir die besit van vervalste dokumente;
  • Drie vir ongedokumenteerde mense;
  • Een vir opsetlike beskadiging of peutering aan ’n voertuig, of om ’n voorwerp na ’n voertuig te gooi;
  • Een vir omkopery;
  • Een vir die belemmering of verhindering van ’n gemagtigde beampte in die uitvoering van hul plig; en
  • Een vir dreigemente of voorstelle van geweld teen ’n verkeersbeampte.

Isaac Sileku, die Wes-Kaapse mobiliteitsminister, het sy kommer oor die toename in dronkbestuur uitgespreek.

mobiliteit
Die Wes-Kaapse verkeersdienste asook ander plaaslike owerhede arresteer iemand. Foto: Verskaf

“Elke bestuurder wat ná ‘n drinkery agter die stuurwiel inskuif, is ’n gevaar vir hulself en elke ander padgebruiker. Namate ons die feestyd nader, verskerp ons wetstoepassing om te verseker dat wetgehoorsame padgebruikers veilig kan reis. Bestuur onder die invloed van alkohol sal nie geduld word nie en ons sal aanhou om ferm op te tree,” het Sileku in die verklaring gesê.

LEES OOK: Mobiliteitsdepartement waarsku teen misbruik van Bainskloofpas

Maxine Bezuidenhout, die hoofdirekteur van verkeersbestuur, het die publiek gemaan om verantwoordelik op te tree.

“Die hoë aantal dronkbestuur-inhegtenisnemings is uiters kommerwekkend. Selfs klein hoeveelhede alkohol kan oordeel en reaksietyd beïnvloed. Ons beamptes sal streng optree teen enigeen wat ander se lewe in gevaar stel deur onder die invloed [van alkohol] te bestuur. Ons doen ’n beroep op motoriste om verantwoordelik te wees, die wet te respekteer en ons te help om onnodige voorvalle en lewensverlies op ons paaie te voorkom,” het Bezuidenhout gesê.

LEES OOK: Minister launches Mobility Month to tackle traffic gridlock in Cape Town

Motoriste word aangeraai om vooruit te beplan deur:

  • E-dienste of gemeterde taxi’s te gebruik;
  • ’n Nugter bestuurder aan te wys;
  • Te reël dat jy oornag waar jy kuier;
  • ’n Vriend of familielid vir ’n geleentheid te vra, en
  • Te weier om saam met iemand wat alkohol gedrink het, te ry.

“Padveiligheid is elkeen se verantwoordelikheid,” het Sileku bygevoeg

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article