Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het uitgevaar teen ’n vals-nuus video wat versprei word, waarin beweer word dat ‘n leerder by “Golden Gates High School” betrap is terwyl hy in die matriek-eksamen gekul het.
Die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het ook beklemtoon dat die betrokke skool wat in die video genoem word, nie bestaan nie en die video is heeltemal vals.
Maynier het bygevoeg dat alhoewel daaropvolgende video’s verduidelik dat dit ‘n tipe parodie is, is die skade reeds aangerig.
Die WKOD sê dat doelbewuste vals nuus soos hierdie ernstige skade aanrig, aangesien dit onregverdige twyfel skep oor die integriteit van die eksamenproses. Dit verhoog ook die spanning onder matrieks op ‘n tydstip wanneer hulle eerder op hul eksamens behoort te fokus.
Die departement doen ‘n beroep op die publiek om nie vals nuus oor eksamens te deel of te versprei nie. Dit mors amptenare se tyd, wat eintlik gefokus moet wees op die belangrike taak om die eksamens te administreer, en dit veroorsaak onnodige paniek onder leerders en ouers.
“Die welstand van matrieks tydens die eksamenperiode is die grootste prioriteit, sodat hulle in die beste gemoedstoestand is wanneer hulle elke eksamen aflê,” het Maynier gesê. “Volwassenes het ‘n verantwoordelikheid om ons matrieks in die Wes-Kaap te ondersteun en seker te maak hulle kan die eksamen met selfvertroue aanpak.”