Anton Bredell, Wes-Kaapse Minister vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning het vandag (25 Januarie) bevestig dat die Nasionale Tesourie ’n bedrag van R114 miljoen goedgekeur het om vrygestel te word van die Munisipale Rampreaksie-toelaag aan die Wes-Kaap, vir skade wat tydens die vloede van September 2023 gely is.
“Ons waardeer hierdie toekenning, en ek wil al die rolspelers bedank wat saamgewerk het om skadebepalings te doen, die rampklassifikasie-aansoek opgestel het en saam met ons kollegas by die Nasionale Rampbestuursentrum gewerk het om aan al die regulatoriese vereistes te voldoen om te kwalifiseer vir hierdie ramphulp. Dit is belangrike en nodige befondsing om ons te help om die beduidende impak wat die vloed op ons provinsie gehad het, te hanteer”.
Minister Bredell het gesê dat alhoewel die provinsie aansoek gedoen het om verligting van meer as R700 miljoen, word die R114 miljoen wel waardeer, en die provinsie sal nou daarop fokus om die geld verstandig te bestee in die vyf munisipaliteite wat vir verligting geïdentifiseer is. Hukke is as volg:
• 24 projekte in Theewaterskloof
• 16 projekte in Overstrand
• 11 projekte in Stellenbosch
• 13 projekte in Langeberg
• 6 projekte in die Stad Kaapstad.
Minister Bredell het gesê die intense oorstromings van 2023, en die huidige veldbrandseisoen wat brandweerdienste oor die provinsie tot die uiterste strek, is ’n wekroep vir alle regeringsvlakke: “’n Nuwe ingesteldheid is nodig vir infrastruktuurontwikkeling en hoe ons interaksie het met aard. Ons kan nie paaie en brûe herstel om in die volgende vloed weg te spoel nie. Ons moet ontwerp en bou met die toekoms in gedagte waar ons meer ekstreme weergebeurtenisse moet verwag.”
Die Departement van Plaaslike Regering, saam met hierdie munisipaliteite, werk tans aan toegewyde sakeplanne vir elk van die geïdentifiseerde herstelprojekte.


