Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het die uiters belangrike 2023- Wes-Kaapse Prestige Agri-werker van die jaar-kompetisie vandeesweek in Hermanus in die Overberg-distrik van stapel gestuur.
Die streeksbeen van die kompetisie, wat in 16 streke in die Wes-Kaap gehou word, begin in Junie.
Deelnemers sal in 11 afdelings meeding – algemene werker, drywer, besproeiingspesialis, tegniese operateur, diereproduksie, administratiewe personeel, maatskaplike ontwikkeling, landbouverwerking, voorman, junior bestuur en middelbestuur.
Streekwenners sal teen die einde van Augustus aangekondig word, waarna hulle in September aan die provinsiale kompetisie sal deelneem.
Meyer het tydens die bekendstelling gesê die Prestige Agri-kompetisie stel die uitstekende werk wat in die landbousektor in hierdie provinsie gedoen is ten toon.
Dit gee ook erkenning aan, vier en inspireer trots in sy arbeidsmag en moedig hulle aan om nuwe vaardighede aan te leer.
Meyer het beklemtoon landbouwerkers vervul ’n belangrike rol in die ekonomie van die Wes-Kaap.
“Sewentien persent van almal wat tans in die Wes-Kaap werk, werk in die landbousektor,” het hy gesê.
Dr. Annelie Rabe, die uitvoerende burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, het die belangrikheid van landbouwerkers beklemtoon:
“Sonder landbouwerkers het ons nie landbou nie.”
Pieter van Zyl, hoofbestuurder van verkryging by Shoprite, het gesê Shoprite borg die jaarlikse Agri-kompetisie sedert 2012.
“Shoprite is trots om met hierdie kompetisie geassosieer te word. Daardeur erken ons die landbouwerker se kritieke rol om te verseker dat ons klante daagliks toegang tot vars vrugte, groente, vleis en suiwelprodukte het,” het Van Zyl gesê.
Die Wes-Kaapse departement van landbou se adjunk-direkteur-generaal, Darryl Jacobs, het gesê die Prestige Agri-werker-kompetisie is die toonaangewende maatskaplike opheffingsprojek van die departement.
“Die kompetisie het sedert sy ontstaan ’n aansienlike invloed op die werkers en hul gesinne. Op individuele vlak voel landbouwerkers erken en beloon vir hul bydrae tot die landbou, en die deelnemers ontwikkel eiewaarde en verbreed hul kennis. Boonop word vorige deelnemers as rolmodelle en leiers op die plaas en in hul gemeenskappe beskou”, het Jacobs gesê.
Meyer het bygevoeg: “Om erkenning aan ons landbouwerkers te gee, inspireer hoop en wek ’n gevoel van waarde. Dit is belangrik om in ons landbouwerkers te belê, wat ’n deurslaggewende deel van hierdie sektor is,” het hy afgesluit.
Die wenner en Wes-Kaapse Prestige Agri-werker van 2023 sal op 4 November by ’n glansgeleentheid aangekondig word.
Vir verdere besonderhede oor hoe om in te skryf, kontak asseblief Gertrude.Jacobs@westerncape.gov.za.

