Die kantoor van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (Ogsa) het sy jaarlikse oorsig van plaaslike munisipaliteite gepubliseer wat die ouditresultate vir die boekjaar 2021-’22 dek.

Slegs 15% van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite het ’n skoon oudit behaal. Die verslag toon ’n voortgesette afname in die finansiële gesondheid van die land se munisipaliteite, met die oorgrote meerderheid (85%) wat nie ’n skoon oudit ontvang het nie.

Volgens die ouditeur-generaal word munisipaliteite met skoon oudits gekenmerk deur gesonde finansiële en prestasiebestuursdissiplines en verrig hulle hul funksies in ooreenstemming met toepaslike wetgewing. Hierdie munisipaliteite wys wat in Suid-Afrika bereik kan word en dien as ’n blink voorbeeld vir ander.

In die gekonsolideerde algemene verslag oor plaaslike regering-oudituitkomste vir 2021-’22 lys die ouditeur-generaal 33 munisipaliteite in die land wat daarin geslaag het om opeenvolgende skoon oudits te behaal. Die meerderheid van hierdie munisipaliteite (19) is in die Wes-Kaap, wat meer is as die totaal (14) van wat die ander agt provinsies saam opgelewer het.

Noordwes en Vrystaat het geen munisipaliteite op dié lys nie.

Die tien beste munisipaliteite in Suid-Afrika, wat skoon ouditmenings in opeenvolgende jare behaal, is:

1. Weskus-distriksmunisipaliteit (Distrik)

2. Overstrand-munisipaliteit (Plaaslik)

3. Witzenberg-munisipaliteit (Plaaslik)

4. Kaap Agulhas-munisipaliteit (Plaaslik)

5. Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (Distrik)

6. Hessequa-munisipaliteit (Plaaslik)

7. Midvaal-munisipaliteit (Plaaslik)

8. Okhahlamba-munisipaliteit (Plaaslik)

9. Bergrivier-munisipaliteit (Plaaslik)

10. Drakenstein-munisipaliteit (Sekondêre stad)

Die toppresteerder of nommer een in elke kategorie in Suid-Afrika is:

. Beste Provinsie: Wes-Kaap

. Beste Sekondêre Stad: Drakenstein-munisipaliteit (Wes-Kaap)

. Beste Distriksmunisipaliteit: Weskus (Wes-Kaap)

. Beste Plaaslike Munisipaliteit: Overstrand-munisipaliteit (Wes-Kaap).

Verlede maand is Drakenstein-munisipaliteit ook aangewys as die Wes-Kaap se beste sekondêre stad en naaswenner in die kategorie beste munisipaliteit by die agtste provinsiale regering se toekennings vir diensuitnemendheid, wat hierdie plek met die Swartland-munisipaliteit deel. Overstrand-munisipaliteit het die eerste plek behaal. Die toekennings vir diensuitnemendheid erken en beloon uitnemendheid in die openbare sektor, bevorder ’n burgergesentreerde kultuur en verskans professionaliteit.

Sedert 2011 het Drakenstein-munisipaliteit 15 opeenvolgende ongekwalifiseerde ouditmenings van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika behaal, waarvan agt skoon oudits was.

You need to be Logged In to leave a comment.