Drie vroue van die Paarl het Maandagoggend (26 Junie) die rol van vroedvrou vervul toe ’n jong ma skielik op die sypaadjie in Bredastraat, Paarl, begin kraam het.
Charmaine Theunissen, een van die vroue wat die 28-jarige Towera Mkadawire bygestaan het, sê die voorval het omstreeks 08:15 afgespeel.
“Ons het gedog dit is die kinders wat op pad kollege toe is wat gewoonlik raas. Toe kom een van my kollegas ingehardloop en vra my wat die ambulans se nommer is, en ek wou toe weet hoekom. Sy het gesê hier is ’n vrou buitekant op die sypaadjie besig om te kraam. Ek het nog gesê sy is seker nie ernstig nie, maar is hier uit om te gaan kyk. Nog voordat ek die ambulans gebel het, het ek eers die situasie mooi uit die boom uitgekyk en gesien die kleintjie gaan vir niemand en niks wag nie – hy kom nou! Ek het voor haar gaan sit en haar bene oopgemaak, en toe sien ek die koppie lag al vir my. Twee minute later het die babatjie op die grond gelê.”
Die vroue wat saam met Theunissen hand bygesit het, is haar kollega Leticha Fisher en Frances Pieters, die eienaar van die Ouma se kombuisbakkery. Die ambulans het sowat 30 minute nadat die babaseuntjie gebore is, opgedaag en die nodige behandeling toegepas voordat die ma en pasgebore baba na die Paarl-hospitaal geneem is.
Theunissen sê op die oomblik, terwyl Mkadawire – oorspronklik van Malawi – geboorte gegee het, het sy self baie bang en oorweldig gevoel, want sulke goed gebeur gewoonlik “net in flieks en nie in die werklike lewe nie”.
Theunissen het die nuwe mamma en klein Deckson Ngala Maandagaand by die hospitaal besoek. Hy het by geboorte 3,5 kg geweeg en is 33 cm lank. Mkadawire en Deckson is sedertdien ontslaan en sterk by hul woning in New Rest, Wellington, aan.
Leensie Lotter, ’n woordvoerder vir die Paarl-hospitaal, het bevestig die baba en sy mamma is ná sy geboorte in dié hospitaal opgeneem.