Werkers ontvang woonstelle

Altesaam 12 werkers van die bekende Bosmanplase buite Wellington het op 19 April die sleutels ontvang vir hul splinternuwe woonstelle wat spesiaal deur die organisasie in die hart van Wellington opgerig is.


Altesaam 12 werkers van die bekende Bosmanplase buite Wellington het op 19 April die sleutels ontvang vir hul splinternuwe woonstelle wat spesiaal deur die organisasie in die hart van Wellington opgerig is.

Volgens ’n bestuurslid van die Bosmanplase, bestaan die 12 woonstelle wat nou deur hul werkers betrek gaan word, uit 10 eenkamerwoonstelle en twee woonstelle met een aparte slaapkamer elk. Al die woonstelle is toegerus met aluminiumdeure en -vensters, ingeboude kaste en teëlvloere.

Die fondse vir die oprigting van die woonstelgebou is voorsien deur die Adama-werkerstrust wat deur werknemers by Bosmanplase beheer word.

Volgens Jannie Bosman, voorsitter van die Bosmanplase, boer hy en sy familie reeds geslagte lank op die plase en baie van die werkers op die plase is net so lank reeds getroue werkers op die plase.

Omdat baie van hierdie werkers die kinders is van families wat reeds tot drie geslagte lank op die plase werksaam is en omdat baie van hulle saam met hul ouers en oupas en oumas in dieselfde huise op die plase woon, moes daar ’n plan gemaak word.

Met die oog daarop, het die maatskappy reeds in 2003 ’n groot ou woonhuis op Wellington omskep in ’n woonstelgebou en nog ’n kleinerige woonstelgebou op dieselfde perseel opgerig. Die woonstelle in die geboue is tot die beskikking van werkers wat reeds afgetree het, gestel.

Die inwoners het besluit om die kompleks Adama te doop.

Die nuwe woonstelgebou wat pas voltooi is, is op ’n erf wat grens aan die Adama-aftreeoordgebou. Die nuwe gebou staan bekend as Adama Heights 11. Direk langs die nuwe woonstelblok is ’n woonhuis spesiaal ingerig vir John Apollis, een van die plaasbestuurders wie se familie reeds vyf geslagte lank op die Bosmanplase werksaam is.

Hy sal die inwoners wat in die nuwe woonstelgebou gaan intrek elke dag na hul werkplekke op die plase vervoer.

Die Adama-trust wat die woonstelle opgerig het, besit vandag 26% van al die sakebedrywighede op die Bosmanplase. Hulle is ook verantwoordelik vir die onderhoud en bestuur van die woonstelgebou.

Die werkers wat daar woon, betaal slegs vir hul elektrisiteit en munisipale dienste, die res is die verantwoordelikheid van die Trust.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.