Padwerke op die R301 naby die Boschenmeer Golf-landgoed in die Paarl. Foto: Rasaad Adams


Motoriste en inwoners wat daagliks van die R301-pad in die omgewing van Boschenmeer en Val de Vie in die Paarl gebruik maak, gaan vir etlike maande nog geduld moet toepas nadat die provinsiale regering vandeesweek bekendgemaak het dat die padwerke, wat reeds in Junie 2022 begin het, waarskynlik eers teen Oktober vanjaar voltooi sal wees.

Die R200 miljoen-projek, wat die uitbreiding van die R301 van ’n enkel- na ’n dubbelbaan behels, veroorsaak voortdurend erge verkeersopeenhopings.

Die primêre doelwit van hierdie projek is om verkeersvloei vir beide huidige en toekomstige padgebruikers te verbeter, het Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, by vorige navraag aan Paarl Post gesê.

Dit is ’n gesamentlike projek tussen die Drakenstein-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur.

Paarl Post verstaan dat die kontrak op 1 Junie 2022 in werking getree het. Die werk moes binne 18 maande en in Oktober 2023 voltooi gewees het.

Jandre Bakker, woordvoerder vir die departement van infrastruktuur in die Wes-Kaap, het vandeesweek aan Paarl Post gesê een rybaan is amper voltooi en dat die regering beoog om die res teen Oktober vanjaar te voltooi.

Ons moet onthou dat die groter Drakenstein-gebied verlede jaar ’n natter as gewone winter beleef het. Sulke weersomstandighede het ’n beduidende impak op ’n projek se verloop. Die vertragings is geïdentifiseer en ons is tans besig om die kwessies op te los.
Jandre Bakker, Wes-Kaapse departement van infrastruktuur

Hy sê die projek het talle vertragings ervaar – hoofsaaklik van omgewingsaard.

“Ons moet onthou dat die groter Drakenstein-gebied verlede jaar ’n natter as gewone winter beleef het. Sulke weersomstandighede het ’n beduidende impak op ’n projek se verloop. Die vertragings is geïdentifiseer en ons is tans besig om die kwessies op te los.”

Hy het bygevoeg dat die kontrak bepaal hoe enige vertraging bestuur moet word.

“Ons is vol vertroue dat met die ooreengekome strategie die projek suksesvol voltooi sal word. Die res van die pad se opgradering is ook reeds in die ontwerpfase.”

Benewens die verkeersopeenhopings het hierdie pad ook ’n gevaar vir voetgangers en motoriste geraak.

Twee dodelike fratsongelukke waarin vier mense afsonderlik dood is, het in Februarie en Maart, sowat ’n maand uit mekaar, op die pad plaasgevind.

In die een ongeluk is twee mans dood toe hul voertuie trompop naby die N1-afrit teen mekaar gebots het.

Twee jong ouers is ’n maand later in ’n soortgelyke botsing op dieselfde pad dood.

Die VF Plus in Drakenstein het ook intussen sy kommer oor die impak van die padwerke uitgespreek.

“Hierdie probleem raak net erger met die konstruksie wat net nie klaarkom nie. Oor die naweek was daar ’n motorkaping-poging en was dit nie vir die vinnige reaksie van die slagoffer nie, was dit sekerlik ’n moles.

“Voertuie, veral groot trokke met sleepwaens, vind dit bykans onmoontlik om van die afritte aan te sluit en dit affekteer die normale verkeer baie negatief.

“Reaksie van die owerhede dat hulle deeglik bewus is van die probleem met die verskoning dat die ruimte beperk is om die aansluiting te voltooi, is onaanvaarbaar,” het André Fourie, ’n VF Plus-raadslid, vandeesweek gesê.

Fourie sê die gebied waar voertuie op en van die N1-snelweg klim, moes eerste voltooi word, wat sou help dat die verkeer normaal vloei.

You need to be Logged In to leave a comment.