Kaapstad, Paarl en Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) is pas as die gashere van die Internasionale Krieketraad (IKR) se T20-Vroue-wêreldbeker in Februarie 2023 aangewys.

Krieket Suid-Afrika het ook aangekondig dat die vroue- o.19-T20-Wêreldbeker in Benoni en Potchefstroom aangebied sal word.

“Die Oos- en Wes-Kaap is uitstekende krieket- en toeristeplekke met uitstekende geriewe en infrastruktuur,” het Russell Adams, direkteur van die toernooi, gesê. “Ons twyfel nie dat hierdie venues ’n onvergeetlike en unieke Afrika-viering van krieket vir die plaaslike en internasionale ondersteuners by die geleentheid sal bied nie.”

Tien internasionale spanne sal aan die T20-Wêreldbekertoernooi deelneem.

Suid-Afrika het as gasheer gekwalifiseer, terwyl Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en die Wes-Indiese Eilande almal sal deelneem. Die twee oorblywende spanne sal nog deur ’n kwalifiserende toernooi beslis word.

Australië is die verdedigende kampioen en vorige gashere, en het Indië in die eindstryd voor ’n vol huis by die MCG in Maart 2020 geklop.

Die toernooi was oorspronklik geskeduleer om in 2022 gehou te word, maar is na 2023 verskuif weens die herskommeling wat deur Covid-19 veroorsaak is.

You need to be Logged In to leave a comment.