Suid-Afrika pronk nou met ’n rekord wat voorheen deur die Arabiere gehou is nadat die wêreld se langste foefieslaaid – ’n hele 3,2 km lank – amptelik by K3- SA Forest Adventures naby die N2 buite Caledon in die Overberg geopen het.
Die idee van die foefieslaaid (zipline) is reeds in 2014 gebore, en die amptelike werk daaraan het sowat vyf jaar gelede al begin, het Clinton Lerm, die eienaar van SA Forest Adventures, aan Paarl Post vertel.
’n Openingsgeleentheid is Maandag (23 September) gehou wat deur plaaslike en provinsiale rolspelers bygewoon is.
Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, en dr. Ivan Meyer, die LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het die bekendstelling bygewoon.
Lerm het by die geleentheid gesê heelwat faktore het ’n rol gespeel oor hoekom hulle hierdie spesifieke gebied gekies het.
“Ek dink die belangrikste is die ligging. Dit is langs die N2 geleë en is naby genoeg aan Kaapstad, dus is dit net ’n uur se reis vir mense wat daar woon.
“Dan is daar ook die Swartbergreeks en die pragtige en unieke fynbos wat in hierdie gebied aangetref word.
“Dit het vir ons nie net daaroor gegaan om die wêreld se langste foefieslaaid te bou nie, maar ook om vir besoekers ’n unieke ervaring te gee.”
’n Trekker en sleepwa asook 4×4-bakkies word onder meer gebruik om besoekers tot by die vertrekpunt van die foefieslaaid op een van die bergpieke te neem.
Dit is ’n rowwe 7-km-rit in die bergagtige gebiede en besoekers word aangeraai om vir die duur van die rit te bly sit met hul kopskerms op.
Jy reis dan deur pragtige geel kanola-velde, sou jy besluit om die geleentheid in Augustus en September aan te durf.
’n Vriendelike toergids hou besoekers dan geselskap deur hulle te vertel van die unieke plantegroei en dierelewe van die omgewing.
Jy trek dan weg teen ’n vinnige spoed wat sowat 120 km/h kan bereik.
Van bo af kan die pragtige dorpe Caledon en Myddleton en hul omliggende plase gesien word.
“Daar is aandag, daar is adrenalien en daar is ’n veilige aankoms. Avontuur- toerisme is aan die floreer in die Overberg en groter provinsie,” het dr. Ivan Meyer, LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, gesê nadat hy ook ’n beurt op die foefieslaaid gehad het.
Die glykabel in Caledon (3,2 km) is 400 m langer as die een in Ras Al-Khaimah in die Verenigde Arabiese Emirate (2,83 km), wat dus beteken dat Suid-Afrika nou die titel van die langste foefieslaaid ter wêreld gekry het.
Die koste beloop R1 800 per persoon en besoekers word aangeraai om vooraf te bespreek.
Die totale ervaring duur sowat twee ure.
Besoek gerus K3- SA Forest Adventures se sosialemedia- en webblad vir meer inligting oor dié avontuur.